"Die etiese en politieke implikasies van Aristoteles se begrip van praktiese wysheid (phronesis)."-Prof Pieter Duvenage


Dit gaan in hierdie bydrae oor praktiese kennis of wysheid (phronēsis, φρόνησις) in ‘n verdeelde samelewing. Om hierdie kwessie te verken is Aristoteles se werk, en die interpretasie en toepassing daarvan, van grootse belang. In hierdie opsig staan sy begrip van praktiese wysheid (phronēsis) sentraal. In die proses sal hoofstuk VI van die Nikomacheaanse Etiek, waar Aristoteles ‘n belangrike onderskeid tussen wetenskaplik-teoretiese kennis (episteme) en praktiese kennis of wysheid (phronēsis) maak, in die eerste afdeling bespreek word. Daar sal ook verder gewys word hoe hierdie onderskeid nie net van belang vir die sosiaal-etiese aard van die mens (Aristoteles se idee van die mens as zoon politikon) is nie, maar ook vir die daaruit-vloeiende begrip van politiek.

In die tweede afdeling word hierdie kwessie van die politiek verder verdiep met ‘n bespreking van Gadamer se filosofiese hermeneutiek as ‘n twintigste eeuse antwoord op Aristoteles. Hoewel Gadamer in hierdie opsig deur sy leermeester Heidegger beïnvloed is, het hy ook daarin geslaag om om phronēsis as praktiese kennis op ‘n eiesoortige manier met sy voorstel van filosofiese hermeneutiek te integreer. In die opsig word praktiese kennis met begrippe soos die hermeneutiese sirkel en ‘n werkingshistoriese bewussyn verbind.
In die laaste afdeling word Gadamer se rekonstruksie van die Aristoteliese praktiese filosofie met die vraagstuk van ‘n verdeelde samelewing in verband gebring. Die tese, vooraf geformuleerd, is dat Aristoteles se begrip van phronēsis en Gadamer se kreatiewe twintigste eeuse lees daarvan, ten spyte van kritiek wat ook daarop gelewer kan word, van groot waarde kan wees in ‘n plurale en verdeelde samelewing wat deur botsende opvattings van die ware, goeie en skone gekenmerk word.
rsvp: 012 328 3173 (Martie)
Kom vroeg en geniet die aand, dis die laaste gesprek van 2011.