"Wat is die rol van die filosoof in berading vandag?" - Prof Dirk Louw



Die rol van die filosoof as berader kan in die Westerse filosofiese tradisie reeds gevind word in Sokrates (470-399 B.C.) se begrip van die filosoof as ‘n “vroedvrou” wat ander help om geboorte te skenk aan hul eie idees (d.i. om self antwoorde op hul probleme te vind). Hierdie verstaan van die rol van die filosoof was kentekenend van ‘n Grieks-Romeinse tydsgees wat die toepassing van filosofie op alledaagse probleme aangemoedig het. Dink in hierdie verband maar aan die verskeidenheid van voorstelle oor hoe die lewe geleef behoort te word deur onder andere die Pythagoreërs, die Sinici, die Stoїsyne, die Epikureërs en die Cirenese filosofiese skool. In meer resente tye raak die titel “filosofiese berader” al hoe gewilder nadat die Duitse filosoof, Gerd Achenbach, ‘n praktyk vir “filosofiese berading” in die vroeë tagtigerjare gevestig het asook die Gesellschaft fur Philosophische Praxis in 1982 gestig het. Sedertdien het die idee en praktyk van “filosofiese berading” ook na heelwat ander lande verskuif, waaronder die V.S.A., Verenigde Koninkryk, Nederland, Oostenryk, Switserland, Noorweë, Italië, Spanje, Kanada, Israel, Turkye en Suid-Afrika. Desnieteenstaande is daar relatief min oor “filosofiese berading” gepubliseer en nog minder oor “filosofiese berading” in Suid-Afrika. Dus, wat presies is “filosofiese berading”? Wat is “filosofies” aan filosofiese berading? In watter sin is dit “berading”? Verskil die manier waarop “filosofiese berading” in Suid-Afrika bedryf word van hoe dit elders beslag kry?

Dirk is 'n kliniese sielkundige en 'n mede-professor emeritus in die filosofie. Sy belangstellingsveld sluit in die liefde, die lewe, die heelal en alles wat daarmee saamhang. Spesialiteitsvelde sluit in o.a. Filosofiese Berading, die Ubuntu-etiek, en religieuse pluraliteit.

Dink, talm en skrum saam op hierdie blok.
rsvp: Café Riche 012 328 3173 (Martie)