Terugberig: Kan die Ondenkbare bedink word? - het Christina Landman gevra



PROF CHRISTINA LANDMAN: KAN DIE ONDENKBARE BEDINK WORD? GODSDIENSTIGE DENKE OOR DIE HEMEL EN DIE EWIGHEID

Kultusse beskik almal oor sekere vaste eienskappe:

- Daar is ‘n sterk Ou Testamentiese aanslag
- Die leier word slaafs gevolg
- Die einde van die wêreld word gewoonlik spoedig voorspel
- Anti -gay, anti-vrou en anti-liberale denke kenmerk die meeste kultusse

Hoe het mense se persepsies oor die eeue heen verander wat die hemel en die hiernamaals betref? Volgens Michel Foucault skep die samelewing ‘n diskoers wat dan die lewens van die lede van daardie gemeenskap beheer. Die Jode van Bybelse tye het onderskei tussen God wat alleen in die hemel verkeer, die aarde en die Sheol, of donker laagtes, waar al die dooies hulle bevind. Hulle het mettertyd die verwagting begin koester dat God hulle noodlot sou verander (veral gedurende die ballingskap-periode). Die antwoord op hulle swaarkry was dat verandering op hulle wag. Die ellende sou met iets beters (die hiernamaals) vervang word.

Jesus is egter die die eintlike argitek van die hemel-konsep. Die Sadduseërs het hom dikwels in hierdie verband uitgevra. By die vroeë Christene was daar dikwels ‘n verlange na die hiernamaals wat skielik sou aanbreek. Vir die martelare was die vraag oor hoe om in die hemel te kom, die kardinale kwessie. Soos mense later verstedelik het, het die hemel die vorm van ‘n nuwe stad aangeneem: Die Nuwe Jerusalem. Augustinus het baie uitgesien na die hiernamaals as ‘n plek van kontemplasie. Gedurende die Middeleeue het die persepsie verander dat God alleen in die hemel was. Mense kon ook daar kom. In die Renaissance is die hemel as ‘n wonderlike plek gesien. Luther en Calvyn het hulle nie te veel oor die konsep van die hemel uitgespreek nie. Met die uitvinding van die teleskoop het die hemel-konsep egter ‘n knou gekry.

Tydens ‘n opname in die VSA is bevind dat die meeste Amerikaners in die hemel glo. Daar is nie veel detail nie, maar die meeste mense glo dat dit nie ‘n vervelige plek sal wees nie en dat mens geliefde afgestorwenes weer daar sal sien. In Suid-Afrika dink sowat 90% van die bevolking waarskynlik dieselfde.

Die beskrywing van die konsep “hemel” het deur die eeue saamgehang met hoe die samelewing daar uitgesien het.

Wat die konsep “ewigheid” betref, is dit een van die kernbegrippe van die Christendom, naamlik dat die lewe nie ophou nie. Plato het al oor die ewigheid gedink. Met sy Ideëleer word alles wat fisies bestaan immers na ewige konsepte herlei.

Vroeë Christene het geglo dat mens reg moes wees om verlos te word indien daar ‘n skielike einde aan die wêreld sou kom. Verlossing kon bereik word deur martelaarskap, die monastieke lewe en die mistiek. Gedurende die Middeleeue was die kerk magtig. Deur gebed en betaling kon jy iemand uit die vaevuur bevry. Luther het die persepsie verander: mense kon nou net deur geloof gered word.

Denke oor die hiernamaals beïnvloed ons gedrag. Dit het ‘n invloed op ons vrese en die morele pad wat ons bewandel. Dit skep vrees by mense wat gesond of inhiberend van aard kan wees. Alles wat mens doen word noodwendig beïnvloed deur jou siening dat die einde van die wêreld om die draai is.

Die huidige, moderne debat oor die hemel het heelwat verander. Die klem het verskuif van die hemel na ‘n sinvolle lewe op aarde. Ekologiese beswaardes meen die einde van die aarde kan oor 50 jaar aanbreek. Hulle voorspel dus ‘n einde van die wêreld wat deur natuurlike chaos veroorsaak word en nie deur ‘n bonatuurlike ingryp nie.

In die moderne debat gaan dit oor ‘n spel tussen die immanente en die transendente. Daar is ook die konsep van self-transendensie: jy konstitueer jouself deur middel van jou rasionele denke. Dit is jou verlossing. Verlossing hang nou saam met die bewus wees van die spel tussen die immanente en die transendente.

Die Christelike boodskap se troos lê nie in ‘n skielike einde van die wêreld nie, maar in wat in die Bybel staan. Dit is ‘n pad wat die mens en God saamstap, ‘n plek waar die mens ‘n gesonde lewe kan lei. Die transendente sal die mens nie alleen laat nie, selfs nie in die graf nie.

Op ‘n vraag of Jesus nog ‘n rol speel in die nuwe denkrigting, antwoord Christina dat die doel van die huidige spel tussen die immanente en transendente is om oop toegang tot God te skep. Die geïinkarneerde God plaas die twee pole in spel en daarin lê die vervulde lewe.

Indien daar geen lewe hierna bestaan nie, het die kerk nog ‘n rol om te speel? Hierop antwoord Christina dat gemeentelede groot verwagtings het van hoe die kerk hulle lewe kan verander (onder andere deur konkrete aspekte soos berading, hulp met die vind van werk, ens). Die bestaansreg van die kerk gaan oor die realisering van Jesus se koms. Die waardes van Jesus se lewe moet prakties deur die kerk geïllustreer word.

Oor die bestaan van kultusse in Suid-Afrika antwoord Christina dat die sendinglande gestig is deur mense wat nie meer in Europa se verligte samelewing verdra is nie. Hulle het terugbeweeg na piëtisme en ‘n sosiale orde wat aan die Ou Testament herinner. Daardie goedgelowigheid het bly vassteek. Selfs bevrydingsteologie in die Suid-Afrikaanse konteks het ‘n piëtistiese inslag.

Kommentaar is ook gelewer oor die ekovrese rondom die voortbestaan van die planeet – hierdie soort voorspelling oor ‘n spoedige einde wys dalk op ‘n oordrag van die religieuse sfeer. Ekovrese is egter waarskynlik meer rasioneel van aard as die soort voorspellings wat in godsdienstige kringe oor die einde van die wêreld gemaak word.

Op ‘n vraag wanneer dit evolusionêr belangrik geword het om te glo aan die konsep van ‘n ewigheid, word gesê dat dit begin het met die homo religiosus: die behoefte om mense te begrawe omdat daar hoop is vir ‘n voorsetting van die lewe hierna.

Lydia van Eeden

"Kan die ondenkbare bedink word? "-Prof Christina Landman


“Kan die ondenkbare bedink word? Godsdienstige denke oor die hemel en die ewigheid”
Christene het pas – glimlaggend of bebloed – die wegraping van 21 Mei oorlewe. Dis nou tyd om na te dink oor
(1) wanneer ‘n godsdienstige geloofsbeskouing ‘n kultus word (en of ons in post-moderne taal nog oor “kultus” kan praat)
(2)waarom en hoe die konsepte oor hemel en ewigheid oor die eeue heen verander het namate samelewings en hulle diskoerse verander het
(3)wat die invloed van hierdie hemel-en-ewigheid-diskoerse op die samelewing is, en hoe dit mense se gedrag bepaal, en
(4)hoe godsdienste hulle denke oor die Ondenkbare filosofies regverdig
Kom vroeg genoeg, en parkeer op Kerkplein.
rsvp 012 328 3173 (Martie Leslie)