'n Mond vol wilde brame - Marlene van Niekerk

Suid-Afrika

(Vry na Allen Ginsberg se “America”)

Suid-Afrika, ek was ’n kind met ’n mond vol wilde brame
langs die Riviersonderend, nou het ek borrelsiekte
van aanmekaar wegvlieg met Lufthansa.
Suid-Afrika, nevermind my koolstofvoetspoor
en die kaalslag van riviere en fynbos,
die vis wat witpens bo dryf in die Vaal,
die bloeiende renosters onder Toet en Pronk se lemme –
vir jou is ’n kadawer
nie eers die naamkaart aan haar groottoon werd nie.
My ma het my nie so grootgemaak nie,
sy sal my mond uitskrop met Sunlight-seep.
Suid-Afrika, ek vra, wanneer gaan jy jou weerloses begin eer?
Dis óf eerbetoon óf die onbruikbares fynstamp vir bemesting –
want nie alles kom uit die myne nie.
Bog met jou spektakulêre Sweedse handves en engelvrome eks-bevryders,
jy begoël jouself alweer met die wette van ’n polities korrekte god.
Ek is moerig, moenie met my sukkel nie,
my lyster sal nie uit sy kooi kom voor ek heeltemal gebreek is nie,
my kopreënboog is lankal groener as die dakkies.
Suid-Afrika, wanneer gaan jy lig genoeg wees om uit jou broek te vlieg?
Die helfte van jou doppers sit al in Australië,
om van jou voormalige FAK-fakkeldraer nie te praat nie.
Wanneer gaan jou oorblywende digters kaalgat deur die ampsgeboue mars,
en met verweerde pramme mededoë wek waar woorde dit nie kan nie?
Suid-Afrika, moet ek met jou Engels praat voor jy na my sal luister?
’n Zulu-taalbeweging lyk tot nog toe onwaarskynlik.
Wanneer gaan jy jou begraafplase verklaar tot model F-woonbuurte,
dood en lewendig deurmekaar?
Wanneer gaan jy omdraai en Jeremy Cronin knewel?
Suid-Afrika, hoor jy al hoe Ubu aanslof na jou biblioteke
soos ’n sloomdier na Bethlehem?
Suid-Afrika, wanneer gaan jy jou handves menseregte uitvoer na Tibet?
Of is jy nou chaaina net met China?
Soos destyds die boere met Stroessner?
Ek is siek van jou skandes, geslag op geslag.
Wanneer kan ek snags in die heuwels my huis
my Orfiese dade pleeg sonder lyfwag of alarm?
Suid-Afrika, dis hiér waar die waterfiskaal fluit,
hier waar ek antwoord uit die rietruig van die Dwarsrivier,
in die noordelike halfrond is die merels maar hoofs –
maar Suid-Afrika, mens kan van vogelen alleen nie leef nie,
en jou KebbleSelebiSimelane se kaas is te stink vir my.
Hoor hier, Suid-Afrika, dit word nou te lank,
ons kan skik buite hierdie gedig,
maar ek waag dit nie graag meer ná donker op straat nie.
Suid-Afrika, my amigdala werk oortyd,
ek veg ek vlug ek tel my seëninge ek lag ek snuif
my bussies pepersproei ek huil,
ek sit agter my diefwering vir dae aaneen
en luister na Orlando Gibbons,
as ek dit agthonderd pedale per fiets uit my huis waag
word ek platgespring deur wildemanne uit die begraafplaas.
Kyk my aan, Suid-Afrika, ek praat met jou,
ja, jy daar in Tamboerskloof en Oranjezicht,
gaan jy jou emosionele lewe
laat oorneem deur Ina Paarman en His People?
His People en deur Huisgenoot ?
Jy maak vir jou helde, my land,
van Springbok-muffdivers
asof die klokwerk in Sprinbokskrums
vir jou nie genoeg is nie.
Ja, Suid-Afrika, jy praat aanmekaar oor lynstane,
oor lynstane en hupstote en wors,
oor high impact worship.
Suid-Afrika, jou kerke is aerobics arenas,
en jou erfenis is wors, is ’n gebraai in agterplase,
en ’n gevreet, jy is obees van kulturele honger,
jy weet nie meer hoe klink J.C. Bach se passies nie,
jy breek Zim Ngqawana se klavier,
jy maak nie meer poeding van ou brood nie,
jy moer dit weg, net jou diewe benut jou skroot,
al jou oud-atlete en ministers,
rekordbrekers, landmynplanters,
is deskundiges van potjiekos,
van potjiekos en kampvuurstories.
Ai, Suid-Afrika, jy kort uitstraling.
Suid-Afrika, ek is nie Chinees nie, read my lips,
hulle het nie ’n kat se kans om Mossgas in my te kry nie,
ek is ook nie ’n mineraal of ’n halfedelsteen nie,
ek is ’n sinistere hulpbron, ’n torinkie, rrru-rrru,
met ’n riksja in die trapgat.
My bate is om soos jakkalse die taal
uit die tong te jaag soos my pa sal sê:
sikketirrr sikketirrrr oor rant en velderen
dat die stof staan uit die sillabes,
maar my buit is nie in die nasionale belang nie,
want ek praat met die uile.
Met wie praat ek nou? Hallou hallou?
Wag tot ek in my oukêrel se swartlandpidgin
lostrek oor jou tribunale, Suid-Afrika,
soos destyds in die Black Sun, Sus Orf
rumoerend op haar raaskar.
Suid-Afrika my dreigemente is pateties.
Suid-Afrika hoe kan ek ernstige maatskaplike kritiek lewer
en terselfdertyd my lier bespeel?
Suid-Afrika ek wil gaan leer by die Iere, by Heaney en Muldoon,
ek soek lewewekkende digkuns wat ook nog klink na iets.
Suid-Afrika red wat verlore gaan en soek die wat sterwe.
Suid-Afrika sorg vir jou perlemoen.
Suid-Afrika biskop Verryn vang in sy aarde-arms die families Xenos
uit Zimbawe, uit Somalië, uit Ghana, uit Nigerië.
Jy is die hele Afrika se suide, snap jy dit?
Weet jy wat om te doen?
Verwyder jou grense en stuur jou leeus na die tandarts.
Suid-Afrika, jy het die hele Knersvlakte tussen Laingsburg en Colesberg
vir windkrag en sonkrag, maar jy smyt liefs ’n vliegskroef in Koeberg.
Jy is so verbeeldingloos dis apartheid se skuld.
Jy kan nie dink nie dis Verwoerd se skuld.
Apartheid kon nie dink nie dit was die rooi gevaar, die swart gevaar,
dit was die bybel se skuld, die Engelse se skuld,
die Engelse en die Duitsers s’n.
Jan van Riebeeck kon nie dink nie,
die Here 17 het sy kop gedraai.
Die Here 17 was ’n windmeul wat kon planke saag vir skeepsbou.
Suid-Afrika, dis net jou berge wat nog dink, en die kroonden op my horison,
met die oopgewaaide voorkop, slegs sy is voltooide dinkwerk op ’n stelt.
Nou vreet die wêreldslang sy stert met ’n farce van Spar en ’n sous van Spur
en krummels van Kentucky, en jy verstaan dit nie, Suid-Afrika,
jy heul met Shell soos almal,
jy lees nie, jou kabinet is wars van koerante, jy het nie ’n clue
van jou eie geskiedenis nie, jy mis die hele konteks
van transnasionale kapitalistiese plunder waarin jy klakkeloos meedoen
met jou nuutverworwe stertvere van fingerlickin’ rainbow chicken.
Want jy is mos hulpeloos, ’n slagoffer, jy verlustig jou in jou misdeeldheid,
jy voel verwaarloos in jou pak van Lafayette,
jy knip jou eie bek af en dis nie net ek wat dit sê nie,
uit jou gorrel kom net smakgeluide.
Suid-Afrika, dis oor jou snoet te diep in die trog is.
As jy opkyk, is jou ogies klein.
Jy is hulpeloos! roep die Wêreldbank.
Ug og roep jy terug, ugge ogge, ja, tekortgedoen, tekort en hulpeloos
en jy breek uit hulpeloosheid als wat jy begeer, skole, hospitale en toilette.
Suid-Afrika, ahem, ek hoor jy tel darem ’n bietjie Mandaryns op
so stilletjies tussen die vreetpartye.
Suid-Afrika, hoor jy hoe ek hier kwerekwere
op my mondharp?
Dink jy dit maak ons familie? Nee, Suid-Afrika,
fok jou lipstrop, moenie my aanraak nie,
ek is nie eers familie van myself nie.
Ek swerm saam met oortjiesuile wat hoe-hoe in die nag,
ons wag op die nok vir die weeromstuit,
vir die parfuum van koekmekranke in die voorjaar.
Suid-Afrika, hoor hier, koekmekrankekwerekwere is
mineur, dit is mineur en dis queer
en dit fffflatsj uit al my orifiese, so koes as jy my
vang uit die pramtaat in die vertrekhal,
jou neus gaan geler wees as ’n fanbelt onder papaja,
Suid-Afrika, strike a dyke strike a rock,
ek gaan my nie ’n fok in die paranoid-schizoid posisie
laat indok deur jou soos ’n buitevelder of dainferner,
in ’n omlyning van byewaks, springmes en Brut nie,
my depressie gaan poëties wees, poëties en polities,
en ek gaan raas soos die riete al is dit uit Frankfurt:
Woza wietelattie! Op my baftablou batavus,
skitterrrrrry oor die keie sikketirrrrrrrrr!
Suid-Afrika, ek maan jou, jy is ’n nasionalistiese narsing
met ’n head dress wat vir fokol skrik, jy moet oppas,
jy spieël jou in verkeerde waters,
jy het politieke bande met lande
waar die opposisie lewenslank krepeer in tronke,
onthou Suid-Afrika, jou leiers is nou vry, en ook nog hup! bemagtig met miljoene,
en hulle bou first thing skanse om hul huise,
maar hulle is vinnig besig om die hele Hangberg voor hul hek te kry.
So Sexwale, bra, moenie die ellende van die bendes vergeet nie,
hulle is nog almal in die slipknot van tik,
Motlanthe, ta, doen iets aan die lot van die boesmans by Schmidtsdrift,
hulle kan mens leer spoorsny na Heitsi-Eibib,
Lindiwe, ek het ’n Sisulu geken in Amsterdam op sy fiets,
jy moet lekker oop kaarte speel met die komitees in die parlement, asseblief,
Suid-Afrika, ek vra mooi, maak hoveniers van jou soldate, koringboere,
want ons brood is te lig, my land, van die somber pitte
wat jy, bid jou aan, bly invoer uit Suid-Amerika.
Suid-Afrika, toe ek dertig was, het ’n klomp van ons lelike eendjies,
onder die swaarde van Breyten, hier opgevaar na die Victoriavalle
– vaderland ons was naïef –
om te praat uit ons Afrikaanse skaamte met die wyses
en die helde van die struggle, daar was ’n heel paar jagse serafyne
tussen hulle met soetgevooisde stemme,
sodat die wit girl-academics net moes keer vir hulle wickets,
soveel so dat Barbara Masekela die comrades moes aanspreek,
hokaai, manne, staan opsy?.?.?.
Toe was Pallo Jordan nog nie op sy bek geval nie, ’n kritikus van sy party,
en Baleka was ’n skooljuf en ek was met Antjie in ’n kamer,
als was koek en ei, en die deure van alles vir almal geopen,
en ons het op maat van saksofoonmusiek geteken vir die boikot,
strategiese organiese intellektueeltjies, was dit geen skynheilige onsin?
Een kant in ’n hoek het ’n broeis bantam agterdogtig gekloek,
spioen het ons geroep, Sus en So is spioene,
en wou nie verder met hul praat nie, ons was klein en vol bravade.
Shit, Suid-Afrika, ons was oene, en hoe moet die mense vandag voel
wat regtig bómme geplant het vir jou ideale?
Hulle wat gesneuwel en laat sneuwel het, hoe moet hulle voel
noudat jy jou drome met die Gucci’s trap,
en op die Breitners loer na tjailatyd?
Of was iemand soos die gesuipte metro- cop
Mac-watsenaam gewoon van altyd af ’n crook en voel vere
oor daardie verspilling van vlees en bene?
Soos wat Craig Klosbek êrens sit en vere voel,
oor die oorlewendes van briefbomme,
hulle sonder arm, sonder kop,
lieftallig in die balie in die hemel,
gedompel in ’n waan van twintigtien Ubuntu?
Hulle offers was so groot
dat hul blind is vir verraad.
dis baie sad, hoor, Suid-Afrika,
jy moet jou kop laat sak in skaamte,
daar is te veel skurke in jou sis.
Suid-Afrika, ons weet jy wil dit doen (alweer!) in openbare belang,
jou media op-strap en jou boekhouding wegsteek,
Suid-Afrika, ja, dis die koerante, dis hom joernalis, dis hom rassis
wat jou privaatheid, jou reg op geheime uit die doofpot wil doen,
Suid-Afrika, hau wena niemand kan jou iets vertel van menseregte nie,
want jou eie strafkampe hou jy onder die doeke
presies net soos Nujoma-hulle, om van die mal hutjiehu van Harare
se massagrafte vermoorde Matabeles nie te praat nie,
jy lag in die parlement hee-hee-hee as hulle
kla oor jy jou buti’s en sisi’s saamsleep in die staatswag na Indië, na Liberië,
na die speknek Guptas, na Gaddafi om kontrakte te sluit, vir myne, vir olie, vir propaganda,
jy sien nie jou krotte nie, jy tel nie jou grafte nie, jy eer nie jou gogos nie.
Suid-Afrika, ek moet dink aan die Sante Gertrudes,
wat daai poeliesman Le Grange destyds ingevoer uit Argentinië,
aan mooi Eschel Rhoodie van die Citizen, aan Natprop du Plessis,
aan die wapens en Israel, aan die wapens en Irak,
en ek dink dis geneties, jy’s ge-hardwire met hebsug,
en frankenstein fascisme.
Suid-Afrika, dis ernstig, dis my gevolgtrekking, ek is vyf en vyftig
en ek ietermagô soms in blits en verweer met my armpies
verby die jare na die son gestrek, sikketirrrrrr,
maar ek is aan die moed verloor,
my hamstrings is papgesit van probeer novels skryf oor jou,
ek soek ’n kuuroord om te herstel
van my geradbraakte kopvel.
Hier lag agtienjariges in my gesig as ek vir hul ’n woord
soos hersenskim of goedertierenheid wil leer.
Moet ek my regte poems gaan verder droom
met die Dikke Van Dale as kopstut?
Ja, Suid-Afrika, miskien moet ek skedaddel
voor ek opge-chop word voor my aanrecht
soos tannie Joy van Aarde.
Die lieftallige plakkers takseer daagliks,
al kouend aan wat ek vir hulle inpak in foelie,
die teerpale van my prieel vir moontlike dakke.
Die bloureën, die crepuscule wat daar rank
bekoor my nie meer nie.
Want wat is ’n roos sonder ’n huis
met oop deure?
En wat is ’n mens?
Suid-Afrika, ek sal sonder twyfel ou bekendes teëkom in die toue
voor paspoortkontrole, ek gaan niks sê nie, op my lip byt
en my handbagasie oorskuif na die ander skouer.

By: Die Burger 2 Oktober 2010

Terugblik: Prof Elfriede Dreyer en medereerder Lydia van Eeden oor Distopie.