Terugberig: Híérom VERSET, juis in ons Regstaat!

Willie Spies, regsverteenwoordiger van die burgerregte-organisasie, Afriforum, het op 26 Maart 2010 oor bogenoemde tema gepraat. Hy het terugverwys na die Filosofiekafee-byeenkoms van November 2009, toe die joernalis Chris Louw oor waardes kom praat het, en drie dae later in ’n buitengewone daad van verset sy eie lewe met ’n AK-47 geneem het. Kort voor sy dood het Louw in ’n artikel in Beeld verwys na die feit dat die blankes in Suid-Afrika binne die huidige demokratiese bestel tot 6% gereduseer is. Hulle demografiese verteenwoordiging bepaal nie net hulle deelname aan die politiek nie, maar ook aan die ekonomie, deur middel van regstellende aksie.

’n Regstaat is ’n staat wat volgens regsbeginsels bestuur word. Die “kontrak” van 1994 veronderstel ’n sekere prestasie, maar die regering kom tans nie hierdie verpligting na nie.

Spies het verwys na Afriforum se samesprekings met die bestuur van die Commercial Farmers’ Union (CFU) van Zimbabwe. Volgens die CFU is die eintlike probleem in daardie land die ineenstorting van die burgerlike samelewing.

Plaaslik het Afrikaners ’n vinnige omwenteling op loopbaanvlak gemaak onder die nuwe politieke bedeling. Volgens Carel van Aarde het 70% van Suid-Afrikaanse topverdieners in 1995 vir instellings gewerk. Tans werk hierdie 70% egter vir hulleself. Sover dit die staatkundige bestel en samelewing betref, het Afrikaners nog altyd geglo dat die regering of ’n sterk opposisie die leiding behoort te neem. Hulle het egter toenemend besef dat selfs met ’n sterk opposisie hulle steeds maar 6% sal verteenwoordig.

Flip Buys het destyds begin praat oor die noodsaak om die Solidariteit-vakbond in ’n breër beweging te omskep. Helpende Hand het gevolglik ontstaan in ’n poging om gemeenskapswerk onder gemarginaliseerde groepe te doen. Afriforum het gevolg, met 11 000 lede wat in vyf jaar gewerf is.

Volgens Spies behoort verset nooit in ’n normlose of fatalistiese konteks te geskied nie. Nuwe dinge moet tot stand gebring word. ’n Voorbeeld in hierdie verband is die Sol Tech-kollege wat deur Solidariteit tot stand gebring is en waar jong mense geskool word in verskillende ambagte.

Dit is ’n bewys dat, binne die konteks van die regstaat waar die staat nie sy verpligtinge nakom nie, daar steeds moontlikhede is wat deur gemeenskappe ontgin kan word.

Spies het ook die naamsverandering van Pretoria en die regte van boere in Zimbabwe gebruik as voorbeelde waar die gemeenskap suksesvol kan optree. Die debakel rondom Nestle verlede jaar het getoon dat ’n burgerlike sanksieveldtog teen Zimbabwe vrugte kan lewer.

Volgens Ben Pieters moet daar na verset in ’n breër verband gekyk word. Sekere politieke veranderinge kan net deur oorlog tot stand gebring word. Daar is egter tans nie ’n wil tot verset by Afrikaners teenwoordig nie. Spies meen dat oorlog verskillende vorme kan aanneem, en verwys na die feit dat blanke Suid-Afrika dalk destyds militêr sterk was, maar om die onderhandelingstafel verloor het. Tans moet burgerlike instellings gevestig word en bestaande wetgewing behoort gebruik te word om die staat teë te staan waar nodig.

Volgens Abraham Viljoen het Afriforum en Solidariteit “tou gevat” om die burgerlike samelewing te ontwikkel. Meer moet egter ook gedoen word ten opsigte van onderwys en gesondheidsorg. Ons behoort meer geartikuleerd te kan praat oor die regte van minderhede.

Op ’n vraag of daar genoeg ruimte binne die bestaande regstaat is vir minderhede, verduidelik Spies dat die huidige grondwet sterk fokus op individuele regte. Daar is egter artikels in die grondwet wat gebruik kan word om nuwe inhoud daaraan te gee vir minderheidsgroepe, soos artikel 235.

Chris Ylland wou weet hoekom Afriforum soveel tyd aan die naamsverandering van Pretoria afstaan. In hierdie verband verwys Spies na Zimbabwe, waar alle spore van die Britse heersers binne twee tot drie jaar ná onafhanklikheid deur middel van naamsveranderinge verwyder is. Dit het sonder weerstand gebeur. 25 Jaar later veg daardie blankes egter vir hulle oorlewing. Die geskiedenis van ’n pleknaam is verweef met wie jy is. ’n Naamsverandering kom dus neer op ’n daad van onteiening. Dit kan net so vervreemdend wees as die onteiening van fisiese bates. Die naamsveranderingkwessie van Pretoria is nog glad nie afgehandel nie en kan steeds plaasvind. Afriforum is egter reg vir ’n hersieningsaksie in hierdie verband.

Lamé Ebersöhn meen dat sy oor die afgelope paar jaar ’n verandering in houding begin waarneem. Mense lig hulle koppe op en is gereed vir onbevange gesprek. Ons is egter simboolbankrot en behoort skeppend te dink oor nuwe simbole wat mense weer sal moed gee en oorrompel met entoesiame.

Op ’n vraag oor wat sal gebeur as die howe nie meer toeganklik is vir minderhede om besluite te bevraagteken en hulle regte te laat afdwing nie, meen Spies dat dit moontlik hier kan gebeur, soos wat in Zimbabwe wel die geval was. Daarom wil Afriforum juis nie te veel klem plaas op die regsaspekte nie, maar eerder die burgerlike samelewing ontwikkel.

’n Deelnemer aan die gesprek is van mening dat die 6% blankes ook die meerderheid van die bevolking moet saamneem, aangesien hulle ook byvoorbeeld onder swak dienslewering ly. Spies glo daar heers tans ’n eienaardige situasie waar swartes hulleself in dieselfde posisie bevind as Afrikaners tussen die 1940s en die 1980S. Hy wys daarop dat daar wel na gemeenskaplike faktore gesoek moet word. Daar is inderdaad tans marginalisering van die meerderheid, soos gemanifesteer in betogings teen swak dienslewering, máár die betogers stem steeds vir die regerende party.

Wát is u mening?

Neem onbevange deel aan hierdie oopgesprek!

Terugberig: Lydia van Eeden

Vrydagaand: 26 Maart 2010 vanaf 19:30

"Waarom VERSET, selfs in 'n
Regstaat?"- Willie Spies
Die Regstaat in Suid Afrika is onder beleg Hofbevele word deur die staat verontagsaam, haatspraak word algemeen en minderhede voel meer en meer uitgelewer aan die genade van die meerderheid Maar wat staan ons te doen? Hoe kan ons die regte wat vervat is in die grondwet gebruik maar terselfdertyd vordering maak op die pad na ‘n veilige leefruimte in Suid-Afrika? Wat is die rol van burgerlike aktivisme en verset?
Willie Spies was tot verlede jaar ‘n parlementslid en sedert sy uittrede weer ‘n prokureur wat spesialiseer in burgerregte-kwessies. Hy tree op as voltydse regsverteenwoordiger vir AfriForum en was regstreeks betrokke by grondwetlike sake oor stemreg vir Suid-Afrikaners in die buiteland, die grondregte van Zimbabwiese boere en die Pretoria-naamkwessie.
Neem vooraf deel aan die gesprek op dié blog!
Kom vroeg genoeg en parkeer op Kerkplein.

R60pp - sluit 'n heerlike aandete in!
rsvp 012 328 3173
caferiche@kerkplein.co.za