FilosofieKafee: Vrydagaand 26 November 19:30: "Hoe kan ons eienaarskap vat van die renosterkwessie?" -dr Gerhard Verdoorn


Renosters is ‘n wêrelderfenis wat deur ‘n baie klein deel van die samelewing bedreig word. Daar word wyd en syd in die media berig oor stropery deur die wreedaards wat die diere se horings op laakbare wyse oes maar dis asof almal oor hulle skouers loer om te sien wie die saak gaan aanpak. Die apatie van die burgery is dikwels die doodsteek van baie kwessies en dis waar ons moet begin werk aan die renosterkwessie. Dis nie die polisie of natuurbewarings se plig om renosters te beskerm nie, dis elke burger se plig om by te dra tot die pogings vir bewaring in die algemeen. Om anoniem te bly beteken dat jy nie eienaarskap van die probleem wil neem nie en verwag iemand anders moet die ding oplos!

Hierdie is die aflsluitingsfunksie vir 2010!

Dus kom vroeg genoeg aangesien die aand volop vonke én vonkel gaan wees - hierdie keer met die 2010 Beaujolais Nouveau!
rsvp 012 328 3173 of caferiche@kerkplein.co.za

Terugberig: Is die Afrikaner se tyd nie verby nie? - Marietjie Luyt

“Is die Afrikaner se tyd nie verby nie?” Die vraag is tydens die onlangse Filosofiekafee by die Café Riche op Kerkplein gestel deur prof Jurie le Roux van die Departement Ou Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria.
Prof le Roux het die eerste praatjie by die Filosofiekafee gehou elf jaar gelede, met die tema: “Verlos ons van die waarheid! Hy het Lamé Ebersohn geprys omdat sy maand vir maand die kafee aan die gang gehou het – dit kon nie maklik gewees het nie.
Hy het die huidige toestand van die Afrikaner vergelyk met die opkoms van die natuurwetenskappe, met die Bybel as die basis. En op ‘n gegewe moment het di e natuurwetenskappe die Bybel gelos – dit was soos ‘n skuld wat oopgegaan het – al wat oorgebly het, was die dop.
‘Is die Afrikaner soos ‘n skulp wat oopgegaan en waaruit die nuwe Suid-Afrika gekom het en wat nou geen nut meer het nie? “skryf hy in notas wat hy tydens die geleentheid uitgedeel het.”Behalwe natuurlik om die nuwe meesters en die samelewing met skaars vaardighede te dien, en lojale bouers van ‘n nuwe Suid-Afrika te wees.
Hy meen dat daar ook nie meer draers van ‘n bepaalde intellektuele Afrikanerkultuur nie.
Le Roux sonder drie verskillende soorte Afrikaners uit, en meen dat veral die eerste twee tipes ons nie gaan help nie:
• Die OA, die Ontnugterde Afrikaner

Hierdie groep is klaarblyklik nie baie groot nie, maar effektief. Dit bestaan uit skrywers, digters, intellektuele wat aktief en op verskillende maniere aan die ondergang van die apartheidsregime meegewerk het, maar wat klaarblyklik nou ontnugter is. Hier dink hy aan Marlene van Niekerk se toneelstuk (‘Die kort raklewe van Anastasia W’), asook die gedigte oor Suid-Afrika wat tydens die Versindaba voorgelees is, na aanleiding van Allen Ginsberg se ‘America’ . “Dis ontstellend wat hulle sê: die lang gedig van Marlene van Niekerk drup van ontnugtering.”

Voel ons nou die gevolge van hulle onnadenkende optrede? Oor die ontmoeting met die ANC in Dakar skryf Van Niekerk: “Vaderland ons was naïef.’ Ook Charles Malan skryf onlangs: ‘Ons was naïef’.

Met die beste wil ter wêreld kan Le Roux nie simpatie hê met dié ontnugterdes en hulle kritiek nie, sê Le Roux. Ontnugter in wat? Wat het hulle verwag? Wat het hulle dan gedink gaan gebeur?

• Die VGA, die Verlore Geslag Afrikaners, die goeie bekeerlinge. Hierdie mense se lewens kan in twee tydperke verdeel word: die een waarin hulle die ou sisteem ondersteun het, maar radikaal verander het; wat soos ‘n goeie bekeerling ‘n dag en datum het (27 April 1994); ‘n datum waarop hulle finaal die oue verwerp en die nuwe aangehang het.

Tipiese gedragspatrone:
1. Hulle is geweldig godsdienstig, maar een tipe godsdienstig - charismaties of gevoelsmatig.
2. Hulle het apartheid tot een betekenis gekanoniseer, en praat dikwels oor hul skuldgevoelens oor die verlede..
3. Hulle wil graag dinge regmaak, en omhels daarom die bestaande sosiopolitieke sisteem as die finale antwoord.
4. Hulle stel die groep bo die individu en sê graag: ‘ Maak ‘n verskil’.
5. Hulle probeer in alle opsigte polities-korrek wees; konformeer en transformer dat dit bars; volg graag die leiers van die dag en veral Nelson Mandela na.
6. Hulle oorweeg nooit eintlik verset en opstand nie; wil net die heeltyd ‘saamwerk’; praat graag Engels en ondermyn Afrikaans op verskillende maniere.

Volgens Le Roux toon hierdie groep die wesensgebreke van die Afrikaner op sy beste:
Hulle is verslaaf aan godsdiens, maar ‘n spesifieke soort godsdiens waarmee hulle wil opmaak wat hulle sedert 1994 verloor het. Dit is nie ‘n Calvinistiese of Reformatoriese geloof wat die klem plaas op die individu, verset, kreatiewe omvorming van jou wêreld, ens: “Jy staan alleen voor God. Jy bal die vuis vir God.”
Hulle tipe gedrag, van ‘n gevoelsmatige godsdiens, is eerder aanvaarding van die bestaande, samewerking en aksies wat die gelowige lekker laat voel (soos herlewings).
Dié tipe godsdiens het veroorsaak dat die VGA himself in ‘n skuldkompleks laat toespin het. Omdat hy ‘n kortbroek Afrikaner is, wat die Aufklärung gemis het, weet hy nie om daaruit te kom nie. Hierdie VGA is verlore want hy het ‘n kuddementaliteit, het geen kritiese vermoëns nie, konformeer, is tevrede om gebruik te word en het daarom geen geloofwaardigheid nie. “Dis ‘n baie versmorende gemeenskap. Daar is nie iets soos ‘n meesternarratief nie . Bevry ons van ‘die Waarheid’! ”
• Die VA, die Vrye Afrikaner

Miskien, net miskien, sê Le Roux, is daar ‘n buitekans dat die Afrikaner deur middel van die Vrye Afrikaner in die virtuele ruimte sal oorleef. En hierdie ruimte moet oop vir almal wees – jong swart and bruin akademici ook.

Tipiese kenmerke van die Vrye Afrikaner:
1. Post-kleinburgerlik
2. Post-kerklik – dit bevredig nie sy behoeftes nie
3. Post-die-meesternarratief (‘die Reënboognasie’)
4. Post-eenduidigheid (‘dít is die Waarheid’)
Tipiese gedrag: hulle leef die Vryheid; kultiveer die individu se kreatiewe vermoëns om nut te dink, skeppend te verander en ‘n alternatiewe Afrikaanse samelewing te3 skep waarin mense deur buitengewone harde werk en met voorpunttegnologie alle bestaandes sal oortref; hy/;sy poog om intellektuele grondslae vir ‘n ander, alternatiewe, oop, vrye samelewing te lê.
Projekte wat aangepak kan word: alternatiewe vorme van e-regering te ondersoek; elektroniese koerante, populêre tydskrifte en opinieblaaie, vaktydskrifte te skep; die moontlikhede van ‘n e-universiteit te ondersoek; e-biblioteke te skep (vgl Google); alles wat nog ooit in Afrikaans verskyn het, in ‘n e-biblioteek te stoor; e-radiostasies en e-tv te skep; veral ‘n internetradiostasie vir klassieke musiek; alternatiewe vorme geld skep en belê te ondersoek; strewe na ‘n finansieel selfversorgende en onafhanklike gemeenskap.
Op ‘n vraag van Piet Bredell sê Le Roux dat ‘n Afrikaner enigiemand is wat ‘n Afrikaner wil wees. Afrikaans is ‘n kultuurprojek, en in die taal lê ‘n soort intellektuele tradisie – die waardes, perspektiewe en insigte in Afrikaans is belangrik vir die land.
Jaco Nienaber meen dis gevaarlik om weer laer te trek, en Le Roux meen hy is juis hierteen gekant, aangesien die kreatiewe besetting van die virtuele ruimte juis oop is vir almal. Renier Steyn het ook aktief aan die gesprek deelgeneem
Hulle stel die groep bo die individu
Marietjie Luyt

Die Afrikaner - is dit die einde? - Prof Jurie le Roux (Gesprek teks)



Die Afrikaner – is dit die einde? – Prof. Jurie le Roux en Lydia van Eeden (medereerder)
FilosofieKafee, Café Riche, Kerkplein, Pretoria
29 Oktober 2010

Is die Afrikaner soos ‘n skulp wat oopgegaan en waaruit die nuwe Suid-Afrika gekom het en wat nou geen nut meer het nie? Behalwe naturlik om die nuwe meesters en die samelewing met skaars vaardighede te dien, en lojale bouers van ‘n nuwe Suid-Afrika te word? Verder is daar ook nie meer draers van ‘n intellektuele Afrikanerkultuur nie.

Veral die eerste twee ‘tipes’ gaan ons ook nie help nie.

Die OA, die Ontnugterde Afrikaner; klaarblyklik nie baie groot nie, maar effektief; bestaande uit skrywers, digters, intellektuele wat aktief en op verskillende maniere aan die ondergang van die apartheids regime meegewerk het, maar klaarblyklik nou ontnugter is. So ontnugter dat hulle selfs die land kan verlaat. Voorbeeld: Marlene van Niekerk se gedig en drama (‘Die kort raklewe van Anastasia W’).

Dit is vir my ontsettend moeilik om simpatie met dié ontnugterdes en hulle kritiek te hê. Wat het hulle dan verwag? Voel ons nou die gevolge van hulle onnadenkende optrede? Oor die ontmoeting met die ANC skryf Van Niekerk: ‘Vaderland ons was naïef’, Is daar ook ander naïewe dinge wat sy en haar strydgenote gedoen het en waarvoor ons nou die prys betaal? Dit is vir my moeilik om simpatie met dié klomp te monster. Daar is eeder ‘n (onderdrukte) sadistiese genot om te sien hoe die ontnugterdes, die vroeëre anti-apartheidsmouse, die bouers van die groot utopie van ‘n regverdige, nie-rassige, demokratiese Suid-Afrika besig is om gat oor kop in die ANC se slopemmers te versuip. Wat kan ‘n mens van diesulkes verwag?

Daar is ook ‘n ander groep, die VGA of die Verlore Geslag Afrikaners. Wie is dié groep? Dit is hulle wie se lewens in twee tydperke verdeel kan word: die een waarin hulle die ou sisteem ondersteun het, maar radikaal verander het; wat soos ‘n goeie bekeerling ‘n dag en datum het; ‘n dag (die sewe en twintigste van die vierde maand) en ‘n datum (die jaar van onse Here Jesus negentien vier en negentig); ‘n datum waarop hulle finaal die oue verwerp en die nuwe aangehang het.

Tipiese gedragspatrone: is geweldig godsdienstig; baie dikwels charismaties of gevoelsmatig; het apartheid tot een betekenis gekanoniseer; praat dikwels oor hulle skuldgevoelens oor die verlede; wil graag dinge regmaak; omhels daarom die bestaande sosio-politieke sisteem as die finale antwoord; beklemtoon die groep bo die individu; sê graag, ‘Maak ‘n verskil’; probeer in alle opsigte polities-korrek wees; konformeer en transformeer dat dit bars; volg graag die leiers van die dag en veral Nelson Mandela na; oorweeg nooit eintlik verset en opstand nie; wil net die heeltyd ‘saamwerk’; praat graag Engels; ondermyn Afrikaans op verskillende maniere.

Ek meen dié groep toon wesensgebreke van die Afrikaner op sy beste. Hulle is verbind tot ‘n spesifieke godsdiens waarmee hulle wil probeer opmaak wat hulle sedert vier en negentig verloor het. Dit is egter nie ‘n Calvinistiese, of Reformatoriese geloof wat die klem op die individu, verset, kreatiewe omvorming van jou wêreld, ensovoorts geplaas. Die tipe gedrag van ‘n gevoelsmatige godsdiens is eerder aanvaarding van die bestaande, samewerking and aksies wat die gelowige lekker laat voel (soos herlewings). Dié tipe godsdiens het veroorsaak dat die VGA homself in ‘n skuldkompleks laat toespin het omdat hy ‘n kortbroek Afrikaner is, wat die Aufklärung gemis het, en nie weet hoe om daaruit te kom nie. Hierdie VGA is verlore want hy het ‘n kuddementaliteit, het geen kritiese vermoëns nie, konformeer, is tevrede om gebruik te word en het daarom geen geloofwaardigheid nie. Ongelukkig is dit die groep waarop die NGKerk in sy pastoraat fokus.

Miskien, dalk net miskien is daar ‘n buitekans dat die Afrikaner deur middel van die VA, die Vrye Afrikaner, in die virtuele ruimte sal oorleef. En hierdie ruimte is oop, oop, oop vir almal. Tipiese kenmerke: post-burgelik, post-kerklik, post-die-meester-narratief, post-eenduidigheid. Tipiese gedrag: lééf die vryheid; kultiveer die individu se kreatiewe vermoëns om nuut te dink, skeppend te verander en ‘n alternatiewe Afrikaanse samelewing te skep. Hierdie Vrye Afrikaner word oral aangetref waar daar ‘n rekenaar en die internet is; hy/sy poog om deur middel van die virtuele ruimte ‘n nuwe gemeenskap te skep waarin mense deur buitengewone harde werk en met voorpunttegnologie alle bestaande sal oortref; hy/sy poog om intellektuele grondslae vir ‘n ander, alternatiewe, oop, vrye samelewing te lê. Projekte wat aangepak kan word: alternatiewe vorme van e-regering te ondersoek; elektroniese koerante, populere tydskrifte en opinieblaaie, vaktydskifte te skep; die moontlikhede van ‘n e-universiteit te ondersoek; e-biblioteke te skep (vgl Google); alles wat nog ooit in Afrikaans verskyn het in ‘n e-biblioteek te stoor; e-radiostasies en e-tv te skep; veral ‘n internetradiostasie vir klassieke musiek; alternatiewe vorme geld skep en bele te ondersoek; strewe na finansieel selfversorgende en onafhanklike gemeenskap.

Die Afrikaner - is dit die einde?

Hoekom kan daar nie 'n einde wees aan 'n kudde mense, bekend as die Afrikaner, nie?

Daar was 'n einde aan groot beskawings wat oor eeue gestrek het. Wat verhoed dat 'n troppie mense, wie nie eens 'n unieke "beskawing" gevestig het nie, nie ook 'n "einde" kan hê nie?
Wil "Die Afrikaner" steeds so arrogant wees om op voort-bestaan aan te dring, en hoe verkry hy/sy 'n ewige voort-bestaan?

Tot datum het ons nog net op die invloede van die Westersebeskawing geteer en niks nuuts daartoe bygedra nie.
Sefs nie eens ons heerlike bastertaal is vir ons kosbaar genoeg om in beskerming te neem en as die enigste kultuurskat aan ons nageslag as 'n trotse erfenis te laat nie.
Behalwe vir 'n paar besonders beskaafde en talentvolle individue, het 'n bevange politieke party, ondersteun deur 'n spesifieke vorm van Calvinisme, voorheen vir die Afrikaner gedink en gesorg. In hierdie Afrikaner-kudde, was 'n individu en 'n kritiese denker as 'n afvallige swart skaap gebrandmerk


Ook die nuwe 21ste eeuse Afrikaner-kudde verdien nie 'n reg op voortbestaan nie. Soos elders in die "global village" het Afrikaners se grense tussen dit wat privaat en publiek is, of tussen feit en fiksie op Facebook/Twitter, en sogenaamde realiteits TV-shows vervaag. Persoonlikhede word kunsmatig gefabriseer met "make overs" en slaafse navolging van leefstyl agente. Watter jong Afrikaner is nog eg, spontaan en respekteer die intellek, kennis en die retensie daarvan?. Almal wil 'n "Idol" ('n afgod?) wees en op 'n "Kunstefees" as 'n (singende) "kunstenaar" optree of as 'n glanspersoonlikheid in rugby ge-eien word .

Weinig Afrikaners onder ouderdom 50 lees nog boeke of besoek een of ander vorm van die uitvoerende kunste in teaters, meeste het selfs nog nie eens na "U eie Keuse" op RSG geluister en so blootstelling aan klassieke- of ligte klassiekemusiek gehad nie.. Afrikaners verkies brandewyn en coke, ligte ontvlugtingsvermaak, skinderstories in Die Huisgenoot, gaan na "shows" (opvoerings is dit nie) van "kunstenaars" wie se harmoniee en rymlirieke uiters eentonig is. Die ernstige vir hulle is gospelmusiek en emosiebelaaide godsdienstige saamtrekke waar aanhangers tot materiele welvaart en fundamentaliste gesalf word. Die grootste groep in hierdie kudde is selfs nog van mening dat Evolusie 'n geloof is wat die "Christendom" bedreig, terselfdertyd is hulle ywerige aanhangers van bloeddorstige vampier-en geweldbelaaide films en "games".

Die Afrikaner-kudde se kunsmatige en oppervlakkige bestaan, hier of elders, het ondraaglik en walglik geraak. Waarom kan aan hierdie denkarm trop nie 'n einde kom nie?
EL

FilosofieKafee: Vrydagaand 29 Oktober 19:30: "Die AFrikaner - is dit die einde?"-Prof Jurie le Roux


"Die Afrikaner – is dit die einde?" - Prof Jurie le Roux

Uit 'n onlangse gedig van Marlene van Niekerk blyk 'n groot ontnugtering oor die sogenaamde nuwe Suid-Afrika. Sekere werklikhede het ons ingehaal en die vraag is of die Afrikaner toegerus is om die stryd te bowe te kom. Klaarblyklik nie. Die soms oordrewe gevoelsmatige godsdiens van vandag ondermyn waarskynlik sekere Calvinistiese waardes van die vryheid van die individu asook die kreatiewe skeppingskrag van die enkeling om nuut te dink en nuut te skep. Sake word vererger as 'n mens in gedagte hou dat die Afrikaner hoogstens 'n ‘kortbroek westerling’ is wat wel sekere uiterlike vorme van die helder weste oorgeneem het, maar tog die kritiese denke gemis het. En laasgenoemde is uiters belangrik vir oorlewing en om 'n nuwe wêreld oop te dink en oop te maak. Daarom: dit lyk asof die einde naby is. En die ergste: niemand sal ons waarskynlik mis nie.

Neem deel: oopgesprek@filosofiekafee.co.za

rsvp:
Café Riche
012 328 3173
R60 per persoon (aandete ingesluit)

'n Mond vol wilde brame - Marlene van Niekerk

Suid-Afrika

(Vry na Allen Ginsberg se “America”)

Suid-Afrika, ek was ’n kind met ’n mond vol wilde brame
langs die Riviersonderend, nou het ek borrelsiekte
van aanmekaar wegvlieg met Lufthansa.
Suid-Afrika, nevermind my koolstofvoetspoor
en die kaalslag van riviere en fynbos,
die vis wat witpens bo dryf in die Vaal,
die bloeiende renosters onder Toet en Pronk se lemme –
vir jou is ’n kadawer
nie eers die naamkaart aan haar groottoon werd nie.
My ma het my nie so grootgemaak nie,
sy sal my mond uitskrop met Sunlight-seep.
Suid-Afrika, ek vra, wanneer gaan jy jou weerloses begin eer?
Dis óf eerbetoon óf die onbruikbares fynstamp vir bemesting –
want nie alles kom uit die myne nie.
Bog met jou spektakulêre Sweedse handves en engelvrome eks-bevryders,
jy begoël jouself alweer met die wette van ’n polities korrekte god.
Ek is moerig, moenie met my sukkel nie,
my lyster sal nie uit sy kooi kom voor ek heeltemal gebreek is nie,
my kopreënboog is lankal groener as die dakkies.
Suid-Afrika, wanneer gaan jy lig genoeg wees om uit jou broek te vlieg?
Die helfte van jou doppers sit al in Australië,
om van jou voormalige FAK-fakkeldraer nie te praat nie.
Wanneer gaan jou oorblywende digters kaalgat deur die ampsgeboue mars,
en met verweerde pramme mededoë wek waar woorde dit nie kan nie?
Suid-Afrika, moet ek met jou Engels praat voor jy na my sal luister?
’n Zulu-taalbeweging lyk tot nog toe onwaarskynlik.
Wanneer gaan jy jou begraafplase verklaar tot model F-woonbuurte,
dood en lewendig deurmekaar?
Wanneer gaan jy omdraai en Jeremy Cronin knewel?
Suid-Afrika, hoor jy al hoe Ubu aanslof na jou biblioteke
soos ’n sloomdier na Bethlehem?
Suid-Afrika, wanneer gaan jy jou handves menseregte uitvoer na Tibet?
Of is jy nou chaaina net met China?
Soos destyds die boere met Stroessner?
Ek is siek van jou skandes, geslag op geslag.
Wanneer kan ek snags in die heuwels my huis
my Orfiese dade pleeg sonder lyfwag of alarm?
Suid-Afrika, dis hiér waar die waterfiskaal fluit,
hier waar ek antwoord uit die rietruig van die Dwarsrivier,
in die noordelike halfrond is die merels maar hoofs –
maar Suid-Afrika, mens kan van vogelen alleen nie leef nie,
en jou KebbleSelebiSimelane se kaas is te stink vir my.
Hoor hier, Suid-Afrika, dit word nou te lank,
ons kan skik buite hierdie gedig,
maar ek waag dit nie graag meer ná donker op straat nie.
Suid-Afrika, my amigdala werk oortyd,
ek veg ek vlug ek tel my seëninge ek lag ek snuif
my bussies pepersproei ek huil,
ek sit agter my diefwering vir dae aaneen
en luister na Orlando Gibbons,
as ek dit agthonderd pedale per fiets uit my huis waag
word ek platgespring deur wildemanne uit die begraafplaas.
Kyk my aan, Suid-Afrika, ek praat met jou,
ja, jy daar in Tamboerskloof en Oranjezicht,
gaan jy jou emosionele lewe
laat oorneem deur Ina Paarman en His People?
His People en deur Huisgenoot ?
Jy maak vir jou helde, my land,
van Springbok-muffdivers
asof die klokwerk in Sprinbokskrums
vir jou nie genoeg is nie.
Ja, Suid-Afrika, jy praat aanmekaar oor lynstane,
oor lynstane en hupstote en wors,
oor high impact worship.
Suid-Afrika, jou kerke is aerobics arenas,
en jou erfenis is wors, is ’n gebraai in agterplase,
en ’n gevreet, jy is obees van kulturele honger,
jy weet nie meer hoe klink J.C. Bach se passies nie,
jy breek Zim Ngqawana se klavier,
jy maak nie meer poeding van ou brood nie,
jy moer dit weg, net jou diewe benut jou skroot,
al jou oud-atlete en ministers,
rekordbrekers, landmynplanters,
is deskundiges van potjiekos,
van potjiekos en kampvuurstories.
Ai, Suid-Afrika, jy kort uitstraling.
Suid-Afrika, ek is nie Chinees nie, read my lips,
hulle het nie ’n kat se kans om Mossgas in my te kry nie,
ek is ook nie ’n mineraal of ’n halfedelsteen nie,
ek is ’n sinistere hulpbron, ’n torinkie, rrru-rrru,
met ’n riksja in die trapgat.
My bate is om soos jakkalse die taal
uit die tong te jaag soos my pa sal sê:
sikketirrr sikketirrrr oor rant en velderen
dat die stof staan uit die sillabes,
maar my buit is nie in die nasionale belang nie,
want ek praat met die uile.
Met wie praat ek nou? Hallou hallou?
Wag tot ek in my oukêrel se swartlandpidgin
lostrek oor jou tribunale, Suid-Afrika,
soos destyds in die Black Sun, Sus Orf
rumoerend op haar raaskar.
Suid-Afrika my dreigemente is pateties.
Suid-Afrika hoe kan ek ernstige maatskaplike kritiek lewer
en terselfdertyd my lier bespeel?
Suid-Afrika ek wil gaan leer by die Iere, by Heaney en Muldoon,
ek soek lewewekkende digkuns wat ook nog klink na iets.
Suid-Afrika red wat verlore gaan en soek die wat sterwe.
Suid-Afrika sorg vir jou perlemoen.
Suid-Afrika biskop Verryn vang in sy aarde-arms die families Xenos
uit Zimbawe, uit Somalië, uit Ghana, uit Nigerië.
Jy is die hele Afrika se suide, snap jy dit?
Weet jy wat om te doen?
Verwyder jou grense en stuur jou leeus na die tandarts.
Suid-Afrika, jy het die hele Knersvlakte tussen Laingsburg en Colesberg
vir windkrag en sonkrag, maar jy smyt liefs ’n vliegskroef in Koeberg.
Jy is so verbeeldingloos dis apartheid se skuld.
Jy kan nie dink nie dis Verwoerd se skuld.
Apartheid kon nie dink nie dit was die rooi gevaar, die swart gevaar,
dit was die bybel se skuld, die Engelse se skuld,
die Engelse en die Duitsers s’n.
Jan van Riebeeck kon nie dink nie,
die Here 17 het sy kop gedraai.
Die Here 17 was ’n windmeul wat kon planke saag vir skeepsbou.
Suid-Afrika, dis net jou berge wat nog dink, en die kroonden op my horison,
met die oopgewaaide voorkop, slegs sy is voltooide dinkwerk op ’n stelt.
Nou vreet die wêreldslang sy stert met ’n farce van Spar en ’n sous van Spur
en krummels van Kentucky, en jy verstaan dit nie, Suid-Afrika,
jy heul met Shell soos almal,
jy lees nie, jou kabinet is wars van koerante, jy het nie ’n clue
van jou eie geskiedenis nie, jy mis die hele konteks
van transnasionale kapitalistiese plunder waarin jy klakkeloos meedoen
met jou nuutverworwe stertvere van fingerlickin’ rainbow chicken.
Want jy is mos hulpeloos, ’n slagoffer, jy verlustig jou in jou misdeeldheid,
jy voel verwaarloos in jou pak van Lafayette,
jy knip jou eie bek af en dis nie net ek wat dit sê nie,
uit jou gorrel kom net smakgeluide.
Suid-Afrika, dis oor jou snoet te diep in die trog is.
As jy opkyk, is jou ogies klein.
Jy is hulpeloos! roep die Wêreldbank.
Ug og roep jy terug, ugge ogge, ja, tekortgedoen, tekort en hulpeloos
en jy breek uit hulpeloosheid als wat jy begeer, skole, hospitale en toilette.
Suid-Afrika, ahem, ek hoor jy tel darem ’n bietjie Mandaryns op
so stilletjies tussen die vreetpartye.
Suid-Afrika, hoor jy hoe ek hier kwerekwere
op my mondharp?
Dink jy dit maak ons familie? Nee, Suid-Afrika,
fok jou lipstrop, moenie my aanraak nie,
ek is nie eers familie van myself nie.
Ek swerm saam met oortjiesuile wat hoe-hoe in die nag,
ons wag op die nok vir die weeromstuit,
vir die parfuum van koekmekranke in die voorjaar.
Suid-Afrika, hoor hier, koekmekrankekwerekwere is
mineur, dit is mineur en dis queer
en dit fffflatsj uit al my orifiese, so koes as jy my
vang uit die pramtaat in die vertrekhal,
jou neus gaan geler wees as ’n fanbelt onder papaja,
Suid-Afrika, strike a dyke strike a rock,
ek gaan my nie ’n fok in die paranoid-schizoid posisie
laat indok deur jou soos ’n buitevelder of dainferner,
in ’n omlyning van byewaks, springmes en Brut nie,
my depressie gaan poëties wees, poëties en polities,
en ek gaan raas soos die riete al is dit uit Frankfurt:
Woza wietelattie! Op my baftablou batavus,
skitterrrrrry oor die keie sikketirrrrrrrrr!
Suid-Afrika, ek maan jou, jy is ’n nasionalistiese narsing
met ’n head dress wat vir fokol skrik, jy moet oppas,
jy spieël jou in verkeerde waters,
jy het politieke bande met lande
waar die opposisie lewenslank krepeer in tronke,
onthou Suid-Afrika, jou leiers is nou vry, en ook nog hup! bemagtig met miljoene,
en hulle bou first thing skanse om hul huise,
maar hulle is vinnig besig om die hele Hangberg voor hul hek te kry.
So Sexwale, bra, moenie die ellende van die bendes vergeet nie,
hulle is nog almal in die slipknot van tik,
Motlanthe, ta, doen iets aan die lot van die boesmans by Schmidtsdrift,
hulle kan mens leer spoorsny na Heitsi-Eibib,
Lindiwe, ek het ’n Sisulu geken in Amsterdam op sy fiets,
jy moet lekker oop kaarte speel met die komitees in die parlement, asseblief,
Suid-Afrika, ek vra mooi, maak hoveniers van jou soldate, koringboere,
want ons brood is te lig, my land, van die somber pitte
wat jy, bid jou aan, bly invoer uit Suid-Amerika.
Suid-Afrika, toe ek dertig was, het ’n klomp van ons lelike eendjies,
onder die swaarde van Breyten, hier opgevaar na die Victoriavalle
– vaderland ons was naïef –
om te praat uit ons Afrikaanse skaamte met die wyses
en die helde van die struggle, daar was ’n heel paar jagse serafyne
tussen hulle met soetgevooisde stemme,
sodat die wit girl-academics net moes keer vir hulle wickets,
soveel so dat Barbara Masekela die comrades moes aanspreek,
hokaai, manne, staan opsy?.?.?.
Toe was Pallo Jordan nog nie op sy bek geval nie, ’n kritikus van sy party,
en Baleka was ’n skooljuf en ek was met Antjie in ’n kamer,
als was koek en ei, en die deure van alles vir almal geopen,
en ons het op maat van saksofoonmusiek geteken vir die boikot,
strategiese organiese intellektueeltjies, was dit geen skynheilige onsin?
Een kant in ’n hoek het ’n broeis bantam agterdogtig gekloek,
spioen het ons geroep, Sus en So is spioene,
en wou nie verder met hul praat nie, ons was klein en vol bravade.
Shit, Suid-Afrika, ons was oene, en hoe moet die mense vandag voel
wat regtig bómme geplant het vir jou ideale?
Hulle wat gesneuwel en laat sneuwel het, hoe moet hulle voel
noudat jy jou drome met die Gucci’s trap,
en op die Breitners loer na tjailatyd?
Of was iemand soos die gesuipte metro- cop
Mac-watsenaam gewoon van altyd af ’n crook en voel vere
oor daardie verspilling van vlees en bene?
Soos wat Craig Klosbek êrens sit en vere voel,
oor die oorlewendes van briefbomme,
hulle sonder arm, sonder kop,
lieftallig in die balie in die hemel,
gedompel in ’n waan van twintigtien Ubuntu?
Hulle offers was so groot
dat hul blind is vir verraad.
dis baie sad, hoor, Suid-Afrika,
jy moet jou kop laat sak in skaamte,
daar is te veel skurke in jou sis.
Suid-Afrika, ons weet jy wil dit doen (alweer!) in openbare belang,
jou media op-strap en jou boekhouding wegsteek,
Suid-Afrika, ja, dis die koerante, dis hom joernalis, dis hom rassis
wat jou privaatheid, jou reg op geheime uit die doofpot wil doen,
Suid-Afrika, hau wena niemand kan jou iets vertel van menseregte nie,
want jou eie strafkampe hou jy onder die doeke
presies net soos Nujoma-hulle, om van die mal hutjiehu van Harare
se massagrafte vermoorde Matabeles nie te praat nie,
jy lag in die parlement hee-hee-hee as hulle
kla oor jy jou buti’s en sisi’s saamsleep in die staatswag na Indië, na Liberië,
na die speknek Guptas, na Gaddafi om kontrakte te sluit, vir myne, vir olie, vir propaganda,
jy sien nie jou krotte nie, jy tel nie jou grafte nie, jy eer nie jou gogos nie.
Suid-Afrika, ek moet dink aan die Sante Gertrudes,
wat daai poeliesman Le Grange destyds ingevoer uit Argentinië,
aan mooi Eschel Rhoodie van die Citizen, aan Natprop du Plessis,
aan die wapens en Israel, aan die wapens en Irak,
en ek dink dis geneties, jy’s ge-hardwire met hebsug,
en frankenstein fascisme.
Suid-Afrika, dis ernstig, dis my gevolgtrekking, ek is vyf en vyftig
en ek ietermagô soms in blits en verweer met my armpies
verby die jare na die son gestrek, sikketirrrrrr,
maar ek is aan die moed verloor,
my hamstrings is papgesit van probeer novels skryf oor jou,
ek soek ’n kuuroord om te herstel
van my geradbraakte kopvel.
Hier lag agtienjariges in my gesig as ek vir hul ’n woord
soos hersenskim of goedertierenheid wil leer.
Moet ek my regte poems gaan verder droom
met die Dikke Van Dale as kopstut?
Ja, Suid-Afrika, miskien moet ek skedaddel
voor ek opge-chop word voor my aanrecht
soos tannie Joy van Aarde.
Die lieftallige plakkers takseer daagliks,
al kouend aan wat ek vir hulle inpak in foelie,
die teerpale van my prieel vir moontlike dakke.
Die bloureën, die crepuscule wat daar rank
bekoor my nie meer nie.
Want wat is ’n roos sonder ’n huis
met oop deure?
En wat is ’n mens?
Suid-Afrika, ek sal sonder twyfel ou bekendes teëkom in die toue
voor paspoortkontrole, ek gaan niks sê nie, op my lip byt
en my handbagasie oorskuif na die ander skouer.

By: Die Burger 2 Oktober 2010

Terugblik: Prof Elfriede Dreyer en medereerder Lydia van Eeden oor Distopie.

Vrydagaand: 26 Augustus 19:30 "Distopie: nagmerrie of strategie?” - Prof Elfriede Dreyer

Die tema van bespreking sal handel met die uitbeelding van utopie en distopie in kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns. Daar sal gekyk word na die utopiese ideale wat rondom die idees van die stad, identiteit, politiek en tegnologie spesifiek in ons land geskep is en hoedat hierdie konstruksies deur distopiese uitbeeldings gekritiseer en gedekonstrueer word. Distopiese uitbeeldings word dikwels as onnodig pessimisties en "donker" geinterpreteer, maar ek wil aanvoer dat die distopiese genre eerder as 'n hanteringstrategie of -meganisme gesien moet word.

Vrouedag!

Selfstandige Vrou nie Be’mag’tigde nie, asseblief!

In ‘n gesprek tussen …Lynette Francis, Patricia de Lille en Prof Amanda Gouws oor RSG op Vrydagoggend 6 Augustus, oor Vroueregte, kom verskeie vrae na vore o.a hoe is dit dan dat óns samelewing die hoogste verskynsel van misdaad teen vroue het, ongeag die goeie verteenwoordiging van vroue in ons parlement? “En dít ,sê Amanda kan nié met Wetgewing gereguleer word nie” .
Nou ís ons genoodsaak om krities te kyk na hierdie opsie van be’mag’tiging waarmee ons tog só oorhoops mee is. Hierdie strategie het ‘n ooraanbod arrogante be’mag’tigdes geproduseer wat met ‘n oorvloed kapasiteit van eie waan en selfsuigkrag ons openbare bestaan beset.
As Amanda reg is, en ek gaan akkoord, wat sál die geweld dan stuit? Hoe gaan ons hierdie geweldnatuur humaniseer? Die vrouens sal verantwoordelikheid moet aanvaar.
Dit het by my dié vraag laat ontstaan: waarom laat ons samelewing dit toe? Is die Suid Afrikaanse vrou dan al mondig? Wil sy inderdaad mondig wees? Hoe definieer sy haarself? Wil sy steeds deelneem aan rituele waarin sy omgeruil word vir lobola of haar aan ‘n man koppel en dié se Van aanneem, en so haar identiteit opgradeer? Wil sy werklik haarself uitstal as objek op die markplein? Wat word dán op haar beteken? ‘n Soort be’mag’tigde vonnis?
Dalk moet ons vroue eien dat hier ook ‘n soort onthegting van geykte waardes sal moet kom ten einde selfstandig te raak. Veral ook dié waardes waaroor nié gepraat word nie. Wat moeilik ontkombaar is, nie maklik verloën kan word nie. Dit wat ek nog nie kan verantwoord nie, selfs nog nie kan benoem nie.
Verantwoordelikheid neem, beteken in beweging kom, en die suksesvolle oorstyging, baar ‘n veranderde self, ook van vlees en bloed, sterflik. ‘n Vrou wat in haar eie subjektiewe waarheid leef, en sê: ek is nie anoniem nie, vermoor my nie!
Lamé

Terugblik: 23 Julie 19:30 Prof Anton van Niekerk en Marius Odendaal medereer oor "Wetenskaplike kennis en geloofskennis:konflik of versoening?"



"Wetenskaplike kennis en geloofskennis: konflik of versoening?"
Die gesprek handel oor die vraag of die soort kennis wat in geloofsbelydenisse of geloofsaansprake gemaak word, versoenbaar is met die kennisaansprake van die moderne eksperimentele wetenskappe. Hierdie problematiek word aangepak deur eers aandag te skenk aan die godsdienskritiek van Richard Dawkins. Daarna word verduidelik wat die verskil is tussen kennisaansprake in geloof en wetenskap (onder andere met ‘n beroep op sowel Kierkegaard as die minder bekende werk van McClendon en Smith), om, in die lig van van sodanige analise, aan te toon waar en hoe die spreker van Dawkins verskil. Wetenskap en geloof is versoenbaar aangesien hulle vraagstellings nie na mekaar herleibaar is nie en die waarhede wat elkeen verkondig logies verskil en ook verskillend in die lewens van mense funksioneer.

Kanselleer: FilosofieKafee Vrydagaand: 25 Junie 2010

Ongelukkig moes ons hierdie Vrydagaand se FilosofieKafee op die nippertjie afstel. Die spreker het 'n familiekrises en ons kon nie betyds 'n ander spreker vasmaak nie.

Terugberig: Hoe kan Afrikaners daarin slaag om ’n antwoord te gee op hul verhouding met die groter Suid-Afrika?

Danie Goosen verwys na die republikeinse gedagtes as “’n oefening in herinnering”. Gemeenskappe wat in krisis verkeer, beoefen gewoonlik ’n politiek van herinnering. Voorbeelde hiervan is die post-revolusionêre denkers Edmund Burke en Alexis de Tocqueville wat ná die Franse Revolusie terugverwys het na pre-Revolusie denke. Vandag is daar ook denkers wat tydens die huidige Westerse krisis terugverwys na vroeëre lewenspatrone; mense soos Leo Strauss en Alisdair Macintyre.

Die vraag kan gevra word of gemeenskappe altyd antwoorde op hulle vraagstukke vind deur die politiek van herinnering. In die geval van die Afrikaners is die antwoord nee. Die rede hiervoor hou verband met die status van die verlede. Afrikaners sien hul verlede naamlik nie altyd as ’n positiewe bron van verwysing nie.

Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Afrikaners is hulle in ’n situasie waar die verlede as ’n leë vakuum ervaar word. Daar is wel ’n nostalgiese fenomeen wat manifesteer in populêre musiek en kultuur. Hierdie nostalgie help egter nie om riglyne vir die toekoms te vind nie en is eerder ’n vorm van ontvlugting.

Die gesprek tussen Afrikaners stol weens die gebrek aan ’n historiese bewussyn. So vind gesprekke oor die grondwet byvoorbeeld plaas in ’n historiese vakuum. Die grondwet word gesien as die antwoord op al ons vrae en nie as ’n dokument binne ’n groter historiese konteks nie. Afriforum beweeg dan ook heeltemal binne die grondreëls van die bestaande orde.

Hoe sou ’n politiek van herinnering, wat aanknoop by die groter Westerse tradisie, daar uitsien?

Eerstens moet so ’n politiek nie verwar word met nostalgie nie. Nostalgie verlam politieke denke en handeling. Wanneer daar na die verlede verwys word, moet mens nie in ’n óf- óf raamwerk verval nie. So ’n raamwerk manifesteer gewoonlik in die siening dat óf die periode wat 1994 voorafgegaan het, óf die periode daarna, die verwysing behoort te wees. Die “sowel as” benadering moet eerder gevolg word. Dit is noodsaaklik om die kontinuïteit asook die breuke tussen die twee periodes in ag te neem.

Blote gesonde verstand stel mense in staat om te onderskei tussen die aanvaarbare en onaanvaarbare van elke tradisie.

Tweedens is dit belangrik om daarop te let dat die republikeinse tradisie ’n enorme tradisie is, wat strek van Aristoteles, tot by Plato, Aquinas, Dante, ensovoorts.

Die verhouding tussen die deel en die geheel word sedert die tyd van Aristoteles verstaan in deelnemende terme. Gedurende al die verskillende politieke vorme van die staat (stadstaat, die ryk en die nasiestaat) het dit nog altyd gegaan oor die deelnemende dele se verhouding tot die geheel. Dit was egter ’n gedifferensieerde verhouding. Die dele het hulle identiteit behou en nie versmelt in die geheel nie.

Het hierdie deelnemende verhouding ook betrekking op die Afrikaanse republikeinse tradisie? Die Amerikaanse en Franse republikeinse vorme bied aan ons twee verskillende antwoorde:

Amerikaanse siening: die gedifferensieerde aard van die gemeenskap word in stand gehou. Die dele behou hul onafhanklikheid en desentralisering is die wagwoord.

Franse siening: behels die neiging om die volledige versinking van die dele in die geheel te bewerkstellig. So byvoorbeeld is die kerk ten volle ondergeskik aan die staat.

Afrikaners behoort die Franse sentralisme te vermy en aansluiting te vind by die vroeë Amerikaanse tradisie. Afrikaners se onlangse geskiedenis is ’n manifestasie van ’n gesentraliseerde tradisie. Dit is egter interessant om te kyk na die stigting van die vele Afrikaner-republieke (Stellaland, Vryheid, Ohrigstad…) in die 19de eeu. Te dikwels is na hierdie deel van die geskiedenis verwys as agterlik, gesien vanuit die voordele van die sentrum. Die vraag is egter nou of ons nie die situasie behoort om te keer nie.

Die Oranje-Vrystaat en ZAR se verdwyning het meegebring dat Afrikaners eerder vanuit die sentrum beheer wou uitoefen. Dit is as ’n beter opsie gesien. Die Unie het in 1910 byvoorbeeld tot stand gekom as ’n direkte gevolg van hierdie denkwyse. Die tyd het egter aangebreek om die vroeë gedesentraliseerde republikeinse tradisie te heroorweeg. Dit behoort in ’n nuwe konteks gerehabiliteer te word. Solidariteit se Afrikaanse kollege is ’n moderne voorbeeld hiervan, so ook die neiging van Afrikaners om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie veiligheid en skole. Die historiese antesedente lê in die Afrikaner se mikro-republikeinse tradisie. ’n Eietydse voorbeeld kan verder gesien word in die gemeenskapaksie wat op plaaslike vlak in Sannieshof plaasvind.

In die geval van die republieke van Ohrigstad en Lydenburg kon burgers destyds nie ooreenkom oor die noodsaak vir ’n president of sentrum nie. Die huidige versugting na ’n groot leier is in sentralistiese oorwegings gesetel. Hierdie illusie verhoed ons om op plaaslike vlak dit te bestuur wat wel binne ons mag is.

Nog ’n sentrale punt in die republikeinse tradisie is die vryheidskonsep. Volgens die liberale siening van vryheid is die individu vry om te besluit oor hoe hy/sy hul lewe wil inrig. Dit reflekteer byvoorbeeld in kinders wat besluit hoe hulle opgevoed moet word, studente wat aan lektore voorskryf wat hulle verkies om te leer en kerke wat gesag oor lidmate verloor. Die verbruiker in die supermark het die finale besluit. Volgens die republikeinse tradisie hou vryheid egter verband met die gemeenskapslewe. So word die “goeie lewe” geskep.

Ben Pieters meen dat daar holisties gedink moet word oor die verband tussen deel en geheel. Dit is in die huidige konteks nie die deel wat ’n probleem skep nie, maar wel die geheel. Daar behoort nie soveel klem op die individu te val nie, maar eerder op die samehang. Danie Goosen antwoord dat Afrikaners die plaaslike moet herontdek sonder om die geheel prys te gee. Hy is nie oortuig dat Afrikaner-eenheid bereik kan word nie en ook nie dat Afrikaners sonder meer een leier gaan aanvaar nie. Die fokus moet eerder val op die veelheid van gemeenskappe en leiers. Gesprek tussen verskillende Afrikaner-organisasies moet voortdurend in stand gehou word.

Op kommentaar van Marietjie Luyt oor wie dan as Afrikaners beskou kan word, antwoord Danie Goosen dat selfs die Duitsers met al hulle trauma nie soveel twyfel ervaar oor wie hulle is nie. Afrikaners twyfel oor hulle identiteit as ’n gevolg van die oormatige sentralisasie en voorskriftelikheid van die verlede. Ons moet ons egter vir ’n nuwe, gedifferensieerde eenheid van Afrikaners bevorder.

Danie meen dat Afrikaners gedefinieer kan word as ’n historiese kultuurgemeenskap wat verwikkelde historiese prosesse beleef het. Diegene wat hulle met hierdie prosesse kan identifiseer, is Afrikaners.

Die huidige staat dwing sentralisasie af, soos die vorige bewind. Die nasieboukonsep is heeltemal sentrum-georiënteerd. Die meerderheidsbeginsel het die belangrikste faktor geword.

Anneke Glas verwys na die feit dat die gebrek aan eenheid tot Afrikaners se ondergang kan lei. Afrikaners se inherente kreatiwiteit kan egter die huidige problematiek oorkom.

Danie Goosen verwys na Orania as ’n voorbeeld van ’n gemeenskap wat beheer uitoefen oor homself. Daar moet egter vorme van koherensie wees.

Die fenomeen van Afrikaners wat die land verlaat, kan toegeskryf word aan ’n gebrek aan ’n historiese bewussyn. Dit kan egter omgekeer word deur die republikeinse tradisie wat so ’n sentrale motief in ons geskiedenis vorm.

Skuldgevoel speel soos reeds vermeld ’n groot rol in Afrikaners se twyfel oor hul eie identiteit. Die idee dat Suid-Afrikaanse geskiedenis eers in 1994 begin, hou verband met die persepsie dat apartheid boos is. Ons moet egter onthou dat die republikeinse tradisie aansluit by diverse persone soos Thomas Jefferson en Alexis de Tocqueville. As ons hierdie globale tradisie omhels, verkry ons weer legitimiteit.

Die belangrikheid van ’n eie grondgebied om ’n republikeinse tradisie te vestig, moet verder nie onderskat word nie. Orania is ’n belangrike voorbeeld in hierdie verband. Die grondmotief sal dus sterker uitgebou moet word in die toekoms.

Lydia van Eeden

FilosofieKafee: SONDAG 30 Mei 11:30

"Politieke indrukke: oopgesprek met Prof Danie Goosen"
Daar is nie ’n vraag in die politieke geskiedenis van Afrikaners wat ’n belangriker plek inneem as die vraag na hulle verhouding met die groter Suid-Afrika nie. Vanaf hulle vroegste politieke oomblikke is dit ’n sentrale motief: In watter verhouding staan die deel tot die geheel? Vanweë die dinamiese aard van die politieke geskiedenis word hierdie verhouding telkens uitgedaag, betwis en beveg. Afrikaners kon nog nie ’n standhoudende antwoord hierop gee nie. Vandag staan hierdie verhouding weer onder ernstige spanning. Afrikaners ervaar hulself as uitgesluit en vervreemd van die geheel. Om die waarheid te sê, hulle is besig om psigies van die geheel weg te dryf. As dit vir hulle enigsins prakties moontlik was, sou hulle reeds fisies daarvan afskeid geneem het.
Maar waarheen lei dit? Gaan Afrikaners daarin slaag om – onder meer by wyse van ’n verbeeldingryke aansluiting by hulle eie republikeinse tradisie – daarin slaag om ’n antwoord hierop te gee? Die gesprek ondersoek verskillende moontlikhede in hierdie verband.
Kom neem deel aan die onbevange oopgesprek in hierdie historiese gebou in die hart van die stad.
R60 pp (ete ingesluit)
rsvp 012 328 3173 of caferiche@kerkplein.co.za

Terugberig: Voorwaar van Vadertaal na Moedertaal!


VAN VADERTAAL TOT MOEDERTAAL


Lionel Adendorf weet hoe dit voel dit om verguis te word. Deesdae is hy egter nie seker van watter kant om die houe te verwag nie. Op ’n koue herfsaand by Café Riche se maandelikse filosofiekafeebyeenkoms sukkel hy om sy emosies in bedwang te hou wanneer hy praat oor die dreigemente wat hy deesdae as sameroeper vir die Forum van Swart Afrikaanssprekendes ontvang. Die dreigemente kom van wit en bruin Afrikaanssprekendes. Wit sprekers wat meen dat hy as bruinman geen reg het om by die stryd van Afrikaans betrokke te raak nie. Bruin Afrikaanssprekendes wat glo dat die Afrikaners lank genoeg ’n monopolie op Afrikaans gehad het en dat dit tyd is vir bruin of swart Afrikaanssprekendes om die leiding te neem.

Die nuwe etikette kleef ongemaklik aan hom. “Jong bul in die taalstryd”, “aktivis”, “taalstryder”, “die eerste swart gesig van die stryd om die oorlewing van Afrikaans”, word hy deesdae in die pers genoem. “Ten spyte van die dreigemente was ek nog nie spyt dat ek besluit het om myself beskikbaar te stel vir die taal nie,” vertel hy die Café Riche-gehoor. Bedags werk hy as mediabeampte van Noluthando Mayende-Sibiya, minister van vroue, kinders en persone met gestremdhede. In sy vrye tyd wy hy hom aan Afrikaans, “die taal waarin ons liefde maak; grappe maak; leef.”

Die soms militante toon van sy onlangse artikels maak plek vir ’n genuanseerdheid en selfs ’n effense weerloosheid. “Dit is vir my belangrik dat alle Afrikaanssprekendes by die stryd van en oor die taal betrokke moet wees,” beklemtoon hy. “Wat wit Afrikaanssprekendes tot dusver vir die taal reggekry het, mag nie geïgnoreer word nie. Ons moet egter alle Afrikaanssprekendes op ’n nie-rassige basis nou betrokke kry.”

Op 17 en 18 April vanjaar het Adendorf geskiedenis gemaak toe swart, bruin en wit Afrikaanssprekendes genooi is na ’n byeenkoms waar daar uitgevind moes word of swart Afrikaanssprekendes by Afrikaans betrokke behoort te raak, en hoe dit gedoen moet word. Akademici, vermaaklikheidskunstenaars en politici het by die Universiteit van Wes-Kaapland byeengekom. Die ondersteuning wás toe daar.

By hierdie maand se Filosofiekafee-byeenkoms praat hy oor hoe Afrikaans van ’n vadertaal in ’n moedertaal omskep kan word. “Afrikaans is nie net ’n taal wat gepraat word nie; dit lê mense na aan die hart,” meen hy. “Ons lewe egter in ’n patriargale stelsel waar vroue en kinders die taal van die man aanneem. Die debat oor Afrikaans word dan ook deur wit Afrikaanssprekende mans oorheers. Daar is geen duidelike vrouestemme nie.”

Adendorf is entoesiasties oor die potensiaal van Afrikaans. “Omdat dit deur soveel mense van verskillende groepe gepraat word, kan dit die taal van nasiebou wees,” meen hy. “Afrikaans behoort toeganklik gemaak te word vir almal. ’n Boshoff, ’n Naidoo en ’n Slingers moet almal kan optree vir die taal. Die toekoms van die taal lê op die tonge van dié wat haar praat. Afrikaans gáán voortleef, maar dan moet dit die taal word van nie-rassigheid en versoening; die taal van ons moeders.”

Hy lag as hy vertel dat Kringe in ’n Bos, die TV-reekse Sonkring en Agter elke Man, asook die boeke van Ena Murray, deel van sy en sy familie se grootwordwêreld was.

Daar is volgens hom vier punte wat belangrik is. Hierna verwys sommiges deesdae na die Manifes vir Volhoubare Afrikaans. “Eerstens moet alle Afrikaanses kan deelneem aan die debat. Tweedens moet ons ’n groter verskeidenheid van Afrikaanse produkte (soos byvoorbeeld koerante) skep. Derdens moet ons alle tipes Afrikaans deel maak van hoofstroom Afrikaans. En dit is nie ’n pleidooi vir die gebruik van Engels nie!”, vermaan hy. “Die vierde belangrike punt is dat die voortbestaan van Afrikaans nie noodwendig alleenlik gaan afhang van wat by die voormalige Afrikaanse universiteite gebeur nie. Ons moet ander instansies soos die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland ook betrek, want hulle het historiese bande met die swart Afrikaanssprekende gemeenskappe.”

Adendorf is van mening dat Afrikaans die taal is wat deur die meeste mense in hierdie land verstaan word. Ten einde dit te bewys, wil hy Statistiek Suid-Afrika versoek om in die volgende sensusopname mense te vra hoeveel tale hulle verstaan, in plaas van net hoeveel tale hulle kan praat.

Hy staan afwysend teenoor die teorie dat die bruin gemeenskap se ondersteuning van Afrikaans sal afhang van hoeveel hulle op sosio-ekonomiese gebied gehelp word. “Ons kan nie die stryd om die taal koppel aan die aantal bruin jong mans in tronke of die hoeveelheid swanger meisies op die Kaapse Vlakte nie,” meen hy. “Dit behoort hier net te handel oor die taal.”

Hy raak ietwat emosioneel as hy verwys na onlangse persoonlike kritiek. “Mense verwys na die feit dat ek Engels met my kind praat. Maar my seun identifiseer tog nie wie ek is nie. En ja, ek werk vir die ANC en die regering. Elke individu het die reg om sy of haar organisasie te herinner dat ons ’n muliti-kulturele samelewing is. By die ANC se konferensie in Mangaung in 2012 sal daar duidelik standpunt ingeneem moet word oor veeltaligheid.”

Hy ondersteun nie die argument in bruin geledere dat daar ’n waarheids-en versoeningskommissie tot stand behoort te kom om te kyk na hoe swart Afrikaanssprekendes voorheen benadeel is nie. “Ek sal nie my ideaal van Afrikaans as ’n nie-rassige instrument van versoening en eenheid prysgee nie,” sê hy beslis.

“Ons gaan egter nie die stryd vir Afrikaans wen tydens ’n gesprek met ’n buurvrou oor ’n koppie tee nie. Ons moet aktivisme kweek; ’n sirkel van geesdriftiges skep,” beklemtoon hy. “Ons het as Afrikaanssprekendes almal ’n taak om Afrikaans lewend te hou deur Afrikaanse produkte te gebruik en ook om die taal te help lewe gee, deur nuwe skrywers, draaiboekskrywers en komponiste voort te bring. Ons moet ook met ons beursies vir Afrikaans praat deur die Afrikaanse ekonomie te ondersteun.“

“Ons behoort ons nie te laat mislei deur die teenwoordigheid van kunstefeeste en die huidige publikasie van Afrikaanse boeke nie. Net omdat die vuur nou brand, beteken dit nie dat ons hout vir die res van die jaar gaan hê nie. As ons verder nie daarin slaag om binne die volgende tien jaar van Afrikaans ’n moedertaal te maak nie, is dit te laat.”

Afrikaans laat hom soms dink aan ’n vrou wat misbruik is, meen Adendorf. Sy oë is sag en sy hande beduie dringend. “Dit is die huidige generasie se taak om hierdie vrou se waardigheid te herstel.”

“Ons het nou ’n era van vrede in Afrikaans. Mense moet hulle verantwoordelikhede teenoor die taal begin nakom. En elkeen het ’n taak.”

Lydia Van Eeden

Filosofiekafee: VRYDAGAAND 30 April 2010 vanaf 19:30 by Café Riche


"Afrikaans: Van Vadertaal tot Moedertaal" - Lionel Adendorf

Die debat oor en vir Afrikaans word tans oorheers deur mans en dit is belangrik dat ons die verskeidenheid stemme in Afrikaans namens die taal moet laat hoor. Aan die einde van die dag moet die taal van sy patriargale ondertone gestroop word en 'n ware moederstaal word. Dit sal slegs kan gebeur wanneer meer vroue en ander-kleuriges by die debat betrek word en die taal dan so op voetsoolvlak bevorder word.



Terugberig: Híérom VERSET, juis in ons Regstaat!

Willie Spies, regsverteenwoordiger van die burgerregte-organisasie, Afriforum, het op 26 Maart 2010 oor bogenoemde tema gepraat. Hy het terugverwys na die Filosofiekafee-byeenkoms van November 2009, toe die joernalis Chris Louw oor waardes kom praat het, en drie dae later in ’n buitengewone daad van verset sy eie lewe met ’n AK-47 geneem het. Kort voor sy dood het Louw in ’n artikel in Beeld verwys na die feit dat die blankes in Suid-Afrika binne die huidige demokratiese bestel tot 6% gereduseer is. Hulle demografiese verteenwoordiging bepaal nie net hulle deelname aan die politiek nie, maar ook aan die ekonomie, deur middel van regstellende aksie.

’n Regstaat is ’n staat wat volgens regsbeginsels bestuur word. Die “kontrak” van 1994 veronderstel ’n sekere prestasie, maar die regering kom tans nie hierdie verpligting na nie.

Spies het verwys na Afriforum se samesprekings met die bestuur van die Commercial Farmers’ Union (CFU) van Zimbabwe. Volgens die CFU is die eintlike probleem in daardie land die ineenstorting van die burgerlike samelewing.

Plaaslik het Afrikaners ’n vinnige omwenteling op loopbaanvlak gemaak onder die nuwe politieke bedeling. Volgens Carel van Aarde het 70% van Suid-Afrikaanse topverdieners in 1995 vir instellings gewerk. Tans werk hierdie 70% egter vir hulleself. Sover dit die staatkundige bestel en samelewing betref, het Afrikaners nog altyd geglo dat die regering of ’n sterk opposisie die leiding behoort te neem. Hulle het egter toenemend besef dat selfs met ’n sterk opposisie hulle steeds maar 6% sal verteenwoordig.

Flip Buys het destyds begin praat oor die noodsaak om die Solidariteit-vakbond in ’n breër beweging te omskep. Helpende Hand het gevolglik ontstaan in ’n poging om gemeenskapswerk onder gemarginaliseerde groepe te doen. Afriforum het gevolg, met 11 000 lede wat in vyf jaar gewerf is.

Volgens Spies behoort verset nooit in ’n normlose of fatalistiese konteks te geskied nie. Nuwe dinge moet tot stand gebring word. ’n Voorbeeld in hierdie verband is die Sol Tech-kollege wat deur Solidariteit tot stand gebring is en waar jong mense geskool word in verskillende ambagte.

Dit is ’n bewys dat, binne die konteks van die regstaat waar die staat nie sy verpligtinge nakom nie, daar steeds moontlikhede is wat deur gemeenskappe ontgin kan word.

Spies het ook die naamsverandering van Pretoria en die regte van boere in Zimbabwe gebruik as voorbeelde waar die gemeenskap suksesvol kan optree. Die debakel rondom Nestle verlede jaar het getoon dat ’n burgerlike sanksieveldtog teen Zimbabwe vrugte kan lewer.

Volgens Ben Pieters moet daar na verset in ’n breër verband gekyk word. Sekere politieke veranderinge kan net deur oorlog tot stand gebring word. Daar is egter tans nie ’n wil tot verset by Afrikaners teenwoordig nie. Spies meen dat oorlog verskillende vorme kan aanneem, en verwys na die feit dat blanke Suid-Afrika dalk destyds militêr sterk was, maar om die onderhandelingstafel verloor het. Tans moet burgerlike instellings gevestig word en bestaande wetgewing behoort gebruik te word om die staat teë te staan waar nodig.

Volgens Abraham Viljoen het Afriforum en Solidariteit “tou gevat” om die burgerlike samelewing te ontwikkel. Meer moet egter ook gedoen word ten opsigte van onderwys en gesondheidsorg. Ons behoort meer geartikuleerd te kan praat oor die regte van minderhede.

Op ’n vraag of daar genoeg ruimte binne die bestaande regstaat is vir minderhede, verduidelik Spies dat die huidige grondwet sterk fokus op individuele regte. Daar is egter artikels in die grondwet wat gebruik kan word om nuwe inhoud daaraan te gee vir minderheidsgroepe, soos artikel 235.

Chris Ylland wou weet hoekom Afriforum soveel tyd aan die naamsverandering van Pretoria afstaan. In hierdie verband verwys Spies na Zimbabwe, waar alle spore van die Britse heersers binne twee tot drie jaar ná onafhanklikheid deur middel van naamsveranderinge verwyder is. Dit het sonder weerstand gebeur. 25 Jaar later veg daardie blankes egter vir hulle oorlewing. Die geskiedenis van ’n pleknaam is verweef met wie jy is. ’n Naamsverandering kom dus neer op ’n daad van onteiening. Dit kan net so vervreemdend wees as die onteiening van fisiese bates. Die naamsveranderingkwessie van Pretoria is nog glad nie afgehandel nie en kan steeds plaasvind. Afriforum is egter reg vir ’n hersieningsaksie in hierdie verband.

Lamé Ebersöhn meen dat sy oor die afgelope paar jaar ’n verandering in houding begin waarneem. Mense lig hulle koppe op en is gereed vir onbevange gesprek. Ons is egter simboolbankrot en behoort skeppend te dink oor nuwe simbole wat mense weer sal moed gee en oorrompel met entoesiame.

Op ’n vraag oor wat sal gebeur as die howe nie meer toeganklik is vir minderhede om besluite te bevraagteken en hulle regte te laat afdwing nie, meen Spies dat dit moontlik hier kan gebeur, soos wat in Zimbabwe wel die geval was. Daarom wil Afriforum juis nie te veel klem plaas op die regsaspekte nie, maar eerder die burgerlike samelewing ontwikkel.

’n Deelnemer aan die gesprek is van mening dat die 6% blankes ook die meerderheid van die bevolking moet saamneem, aangesien hulle ook byvoorbeeld onder swak dienslewering ly. Spies glo daar heers tans ’n eienaardige situasie waar swartes hulleself in dieselfde posisie bevind as Afrikaners tussen die 1940s en die 1980S. Hy wys daarop dat daar wel na gemeenskaplike faktore gesoek moet word. Daar is inderdaad tans marginalisering van die meerderheid, soos gemanifesteer in betogings teen swak dienslewering, máár die betogers stem steeds vir die regerende party.

Wát is u mening?

Neem onbevange deel aan hierdie oopgesprek!

Terugberig: Lydia van Eeden

Vrydagaand: 26 Maart 2010 vanaf 19:30

"Waarom VERSET, selfs in 'n
Regstaat?"- Willie Spies
Die Regstaat in Suid Afrika is onder beleg Hofbevele word deur die staat verontagsaam, haatspraak word algemeen en minderhede voel meer en meer uitgelewer aan die genade van die meerderheid Maar wat staan ons te doen? Hoe kan ons die regte wat vervat is in die grondwet gebruik maar terselfdertyd vordering maak op die pad na ‘n veilige leefruimte in Suid-Afrika? Wat is die rol van burgerlike aktivisme en verset?
Willie Spies was tot verlede jaar ‘n parlementslid en sedert sy uittrede weer ‘n prokureur wat spesialiseer in burgerregte-kwessies. Hy tree op as voltydse regsverteenwoordiger vir AfriForum en was regstreeks betrokke by grondwetlike sake oor stemreg vir Suid-Afrikaners in die buiteland, die grondregte van Zimbabwiese boere en die Pretoria-naamkwessie.
Neem vooraf deel aan die gesprek op dié blog!
Kom vroeg genoeg en parkeer op Kerkplein.

R60pp - sluit 'n heerlike aandete in!
rsvp 012 328 3173
caferiche@kerkplein.co.za

Terugberig: Hiér is slaggate wat opgevul moet word.



Prof Koos Malan, verbonde aan die Departement van Publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, het op 26 Februarie by Café Riche gepraat oor die tema Slaggate in ons grondwet: Opvul of ompad?

Ons is sedert die aanvaarding van die 1994-interim grondwet vergas op die beeld van die grondwet as ’n snelweg waarop ons reis na ’n wonderlike wêreld. Die grondwet is gesien as die oplossing vir al ons probleme. Aangesien individuele regte verskans is in hoofstuk 2, is dit nie nodig geag om te kyk na minderheidsregte nie. Ten spyte van die unitêre regering is geglo dat ons ’n goeie stelsel van individuele regte het wat deur die remme en teëwigte van die hoofstuk 9-instellings (die Kommissie vir Menseregte, PANSAT, die Kommissie vir Menseregte, ens) afgedwing sou word.

Die vraag kan gevra word wat die oorsprong was van hierdie vaste geloof in die grondwet, wat steeds tot ’n beduidende mate voortduur. Daar is naamlik geglo dat veral hoofstuk 2 van die grondwet se bepalings so duidelik geformuleer is, dat alle redelike mense dieselfde interpretasies daaraan sou heg. Hierdie posisie is gebaseer op die politiek-filosofiese vertrekpunt dat alle redelike mense dieselfde dink en dat hulle gemeenskappe en kulturele erfenis dus nie ’n rol speel by die interpretasie van die grondwet nie.

Wat het intussen ná die aanvaarding van die grondwet gebeur?

Die gelykheidsklousule kan as die belangrikste klousule in die Handves van Regte beskou word. Dit is die belangrikste van die individuele regte, veral gegewe die Suid-Afrikaanse geskiedenis voor 1994. Alhoewel gelykheid voor die reg en ’n verbod op onbillike diskriminasie in die grondwet neergelê is, het die parlement sedert 1997 68 stukke wetgewing aanvaar wat vir verteenwoordigendheid (representativity) voorsiening maak. Verteenwoordigendheid het die belangrikste middel vir die deurvoer van transformasie geword. Dit kom daarop neer dat die bevolkingsamestelling in alle georganiseerde sfere in Suid-Afrika weerspieël moet word. Volgens Andre Louw van die Universiteit van Stellenbosch het verteenwoordigendheid gelykstaande aan gelykheid geword. Dit beteken dat flagrante diskriminasie teen minderhede ingebou word. Swart beheer word oral in die gemeenskap gevestig. Gelykheid word anders gelees deur die swart gemeenskap, in die lig van hulle historiese agtergrond.

FW de Klerk het in onlangse uitsprake oor die grondwet verwys na sy kommer oor die toepassing van sekere aspekte, aangesien dit nie is wat “oorspronklik bedoel is nie.” Dit dui daarop dat mense se lesing van die grondwet nie dieselfde is nie.

Wanneer daar gekyk word na taalregte, bepaal artikel 6 van die grondwet wel dat daar 11 amptelike tale is en dat dit die regering se taak is om die gebruik en status van al die inheemse tale te verseker. In die praktyk is daar egter eentaligheid, want die gebruik van Engels vir nasionale wetgewing en die effek van verteenwoordigendheid het die ander tale op die agtergrond geskuif.

Die bepalings van die grondwet is gevolglik nie noodwendig bepalend vir die praktyk nie.

Dieselfde geld vir die onderwys, waar daar goeie bepalings is, maar waar onderwys in die praktyk tans erger daar uitsien as onder apartheid, aldus Mamphela Ramphele.

Die remme en teëwigte werk nie, want:

  • Wanneer mens hof toe wil gaan, moet jy oor aansienlike fondse beskik,
  • Dit gebeur dikwels dat iemand wat ’n goeie saak het, tog in die hof verloor,
  • Die aanname dat alle redelike mense dieselfde dink, is verkeerd,
  • Die howe is nie onafhanklik nie, want die regters kom – soos in ander lande – uit dieselfde dampkring as die regerende elite. Die vooruitsig van destyds dat die regsbank as ’n soort opposisie vir die regering sou dien, is verkeerd bewys. Daar is nie realisties gekyk na die onvermydelike beperkings van die regsbank nie.

Die instellings wat volgens die grondwet na minderheidsregte moet omsien, is ook volledig deur regeringsondersteuners beset. Daar het dus destyds met die onderhandelinge en aanvaarding van die grondwet ’n totale magsoordrag plaasgevind: op wetgewende, uitvoerende en interpreteerbare vlakke. Die grondwet laat minderheidsgroepe magteloos. Binne ’n nuwe grondwetlike orde behoort die wetgewende en uitvoerende mag verdeel te word.

Persone soos Max du Preez meen dat Afrikaners met die huidige orde moet vrede maak. Ons hoef dit egter nie te aanvaar en te dink dat ons niks aan die bestaande bedeling kan verander nie. Ons leef in ’n onstabiele omgewing met staatsretirering op verskeie gebiede. Calvyn het destyds al gesê dat as die Franse koning ’n valse leer aanhang, mindere ampsbekleders die reg het om hom teë te gaan. As die staat en regstelsel retireer, is jou verstekposisie chaos. Alternatiewe ordes kom egter tot stand. Buurtwagte is ’n voorbeeld hiervan.

Die geykte posisie is dat grondwette onderhandel word. Grondwette word egter nie geskryf nie, maar gemaak. Nuwe praktyke word normatief.

Die vraag kan gevra word of Afrikaners chaos/emigrasie na Australië/die huidige dwinglandy gaan kies.

Tydens die debat word gevra of daar nie minder na die formalistiese beginsels gekyk moet word en meer na waardes nie. Daar moet ook meer op die skeiding van magte as op die ontkenning van regte gefokus word. Prof Malan antwoord dat regte onvoorspelbaar is, wyd geformuleer word en gegrond is op die aanname dat die staat moet presteer op ekonomiese gebied en sekere voordele moet lewer. Dit vestig egter ’n kultuur van afhanklikheid. Die individu se verantwoordelikheid word na die staat verskuif. As die regering dan die gemeenskap faal, is daar niks om op terug te val nie. Die oplossing hiervoor is die integriteit van die gemeenskap (ons verwag van persone in ons gemeenskap om teenoor mekaar te presteer). Die voordeel van ’n falende staat is dat daar steeds oorblyfsels bestaan van gemeenskapsolidariteit soos by die Afrikaners.

Daar word soms gesê dat groepregte nie nodig is nie, omdat gemeenskappe soos die Afrikaners nie gedefinieer kan word nie. Individuele regte is genoegsaam. Mens hoef egter nie ’n gemeenskap te definieer nie. Sekere instellings kan vir sekere gemeenskappe geoormerk word. Diegene wat die fasiliteit gebruik, definieer die instelling.

Advokaat Ben Pieters meen dat ons steeds die oorblyfsels van ’n goeie regstelsel het. Mens het egter nie die krag of geld om hulle regte in die howe te laat afdwing nie. Die liberale het destyds mense soos Arthur Chaskalson gehad, maar daar is nou niemandwat sake meer namens die minderheidsgroepe hof toe neem nie. Verder meen hy dat daar aanknopingspunte vir groepsregte in die grondwet is, veral ten opsigte van artikel 235.

Prof Malan meen dat Afriforum en Solidariteit baie doen om suksesvol van die howe gebruik te maak vir die afdwinging van individuele regte. Wanneer mens egter vra vir sistemiese remedies (soos teen regstellende aksie) is jou kanse skraal om suksesvol te wees.

Die howe is afhanklik van die uitvoerende gesag om hul uitsprake uit te voer. Hulle uitsprake word egter in baie gevalle nie nagekom nie. Die howe is verder afhanklik van die uitvoerende gesag om hulle status te behou en dus wil hulle die regering nie te sterk kritiseer nie...

Chris Yelland wys daarop dat konstitusionele bepalings nie absoluut is nie, maar op ’n spesifieke situasie of konteks gebaseer is. Prof Malan meen dit is juis die probleem: dat die grondwet tot dusver as absoluut gesien is. Hy verwys in hierdie verband na uitsprake van die Grondwetlike Hof (bv die Ebrahim-saak) waar die uitsprake telkens op ’n ander situasie of konteks gebaseer was.

Abraham Viljoen meen dat die grondwetlike beginsels wat destyds opgestel is, en waaroor al die onderhandelaars, met hulle verskillende agtergronde, ooreengestem het, weer bekyk moet word as deel van ’n oplossing vir die interpretasie van die grondwet. Verder meen hy dat ons nie net met die ontkenning van minderhede se regte te doen het nie – die regte van die meerderheid word ook vertrap. Verset moet egter op ’n redelike basis plaasvind.

Wilma Theron wys op misverstande by haar werksplek wanneer daar oor politieke kwessies gepraat word. Die leemtes gaan groter word. Prof Malan bewys met voorbeelde oor sy eie destydse indiensopleiding dat deel van die probleem lê by die kollektiewe geheue van ervare mense wat verlore raak en nie met opkomende werkers gedeel word nie. Mense se foute by hul firmas word verder nie uitgewys nie, eerstens omdat die senior persoon nie die beoordelingskriteria verstaan nie, maar ook omdat die beginsel van ubuntu meebring dat mense nie gekritiseer word nie.

Lamé Ebersöhn meen dat ons te lank gewag het om kritiek te lewer en op te tree. Daarom het alternatiewe, informele stelsels reeds ontstaan. Hoe dwing mens dan die formele reëls in so ’n omgewing op? Prof Malan verwys na Orania met sy selfbeskikking in die kleine, waar daar weliswaar net 700 mense woon, maar waar die staatlike reg geen rol meer speel nie. Hierdie selfgenoegsame stelsel het ontstaan in weerwil van die grondwet en die huidige bestel. Daar is ook ander voorbeelde op die gebied van onderwys en veiligheid oral in die land.

Watter slaggate is u aan't opvul? Watter ompaaie word nou gebruik in u buurt?