“Kan kommersialisering biodiversiteit beskerm?” – Elise Tempelhoff.

Die biodiversiteits-ekonomie beoog om die hele bewaringlandskap van SA radikaal te verander. Kommentaar oor die voorgestelde wetgewing moet gelewer word teen 12 April en dit is noodsaaklik dat almal wat SA lief het en ons land respekteer, daarop kommentaar moet lewer. Afskrifte van die Witskrif sal beskikbaar wees.

Elise Tempelhoff werk die afgelope 14 jaar as spesialis omgewingsjoernalis by Media24, veral bekend vir haar indringende ondersoeke oor die wyse waarop Suid-Afrikaanse maatskappye ons omgewingswetgewing toepas, al dan  nie en hoe dit menseregte raak. Sy skryf oor die handel met plante, wild en wildprodukte, asook oor water en die invloed van mynbou op die omgewing. Tans ondersoek sy Operasie Phakisa, veral invloed van die uitgebreide soektog na olie en gas in die Suid-Afrikaanse oseaan op die mariene ekologie. Elise het reeds twee keer die SAB prys vir omgewingsjoernalistiek ontvang en is in 2009 ook met die FAK se HB-Thom prys vir joernalistiek vereer, asook in 2010 'n merieteprys vir omgewingsjoernalistiek ontvang vir onthullings oor die Aurora-sage by die Grootvleimyn en in 2016 die SANParke omgewingsprys, die Koedoe-toekenning, vir haar bydrae tot omgewingsbewaring ontvang. 

Iedereen welkom!

 

Datum: Saterdagoggend 6 April 2024

Tyd: Vanaf 09:00.

Plek: Pronk, Greenlyn Village, Menlo Park, Pretoria

Toegang: R190pp. Ontbyt en koffie/tee/sap ingesluit.

Bespreek vroegtydig by +27(0)828951139 / oopgesprek@filosofiekafee.co.za en betaal asb met dié datum P06/04 en jou naam by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

                TERUGBERIG: Veronderstel daar is hoop - Fransi Phillips.     


"‘n Paar jaar later kom ek in Moskou aan, dood bang geïndoktrineer deur die stories waarmee ek grootgeword het, vir die bleek Russiese reuse wat dromend op die roltrappe by my verby sweef,  en sit en skaak speel in die parke, en tog ook  heilig  verwonderd oor die skoonheid van goue en silwer kerkkoepels wat lig maak in die ure en ure van donker winters en kerkklokke wat lui uit die woud waar daar ‘n Kremlin is en wat ook die woud was waar Boris Pasternak weggekruip het vir die Sowjet regime, en waar hy nou vereer word. Dis daardie woud waar mens in die sneeu agter  klokke aan uit die verte strompel, verby die plek waar jy vroeër die week ‘n wit wolf en ‘n swart kraai in die sneeu gesien sit en praat het, en soos jy nader kom, hoor jy meer en meer ingewikkelde  melodieë uit die toring kom, en as jy  die deur van die kerk oopmaak, word jy begroet deur engele wie se sang harmonieer met die kerkklokke in die patrone wat die vlamme maak in die goud geraamde ikone. Maar verskoon my, ek raak bietjie sentimenteel, dis nie waaroor my gesprek gaan nie. "


Volledige teks by hierdie skakel:


https://filosofiekafee.blogspot.com/p/teks-veronderstel-daar-is-hoop-fransi.html




TEMA:
 Veronderstel daar is hoop  

SPREKER: Fransi Phillips met Mariana Kruger as medereerder.

Die ergste moontlike vorm van wanhoop, is die besef dat vryheid ‘n gevangenis geword het, en bevryding ‘n lokval. Op die oomblik word daar van ons gevra om te aanskou hoe die volk wat tydens die Tweede Wêreldoorlog van die Nazi’s bevry is, met behulp van die wat hulleself die bevryders genoem het in daardie oorlog, self met ‘n volksuitwissing besig geraak het. Dis hierdie toestand wat ons noodgedwonge terugvat op die pad wat die boemerang gevlieg het sedert die laaste keer toe die die wêreld uit ‘n oorlog “bevry” is, en wat ons laat wonder oor die moontlikheid dat hoop dalk uit vreemder, voorheen misverstane en selfs minder “bevrydende” oorde kan kom. En veronderstel daar is wel hoop vir die wêreld, wat ons sukkel om raak te sien: langs watter weë kan daardie hoop ons hier in ‘n donkerder wordende Afrika bereik?

 Fransi Phillips is ‘n Afrikaanse skrywer met honneursgrade in Filosofie en Kunsgeskiedenis. Sy het vir 10 jaar lank by die Tsjeggiese Ambassade in Pretoria gewerk, waar sy ‘n reeks lesings van Oud-President Vaclav Klaus vertaal het. Hierdie lesings, saam met kulturele en politieke vergaderings van die Europese Unie, het enersyds haar belangstelling in internasionale politiek aangewakker en andersyds ‘n gesonde Euroskeptisisme by haar laat posvat. Sedert 2011 werk sy as Engelse onderwyser in Moskou, veral by die British Business Language School, waar sy heelwat leer van Russiese asook Oekraïniese bankiers, oliemagnate, regsgeleerdes en wetenskaplikes. Haar skeptisisme teenoor die Weste is verder versterk tydens ‘n besoek aan New York in 2020 en 2021, met die inhuldigingstoespraak van Pres. Joe Biden. Op die oomblik werk sy steeds aanlyn by die BBLC, ontwerp T-shirts vir die Kalahari Boesmans en skryf gedigte wat uit die bloute op haar neerdaal.


Datum: Vrydagaand 8 Maart 2024
Plek: Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.
Toegang: R140 pp sluit ‘n glasie welkomsdrankie in. Pizzas, koffie en soetgoed is ekstra beskikbaar.

Bespreek asb by 0828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za
en betaal met dié datum W08/03 en jou naam by hierdie portaal: 


TEMA: René Girard, Michel Houellebecq en die metafisiese toekoms van die Afrikaners: Gedagtes na aanleiding van Houellebecq se roman vernietig(2023)

 

SPREKER: Johann Rossouw in gesprek met Lydia von Wielligh-Steyn

 

In hierdie gesprek word Michel Houellebecq se jongste roman, vernietig (Naledi, 2023) ontleed aan die hand van René Girard se teorie van mimetiese begeerte en mededinging ten einde aan te toon hoekom Houellebecq die Dostojewski van ons tyd is. Voorts word ingegaan op Houellebecq se diagnose van die metafisiese armoede van die eietydse Weste, en wat die implikasies hiervan vir die Afrikaners se metafisiese toekoms is. 

 

Johann Rossouw is professor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en priester van die Ortodokse sendinggemeenskap van die Heilige Apostel Thomas in Bloemfontein. Hy het etlike boeke uit die Frans vertaal, waarvan Michel Houellebecq se vernietig (Naledi, 2023) die jongste is. Hy is die skrywer van meer as 600 rubrieke en opstelle in die plaaslike en buitelandse media, asook die skrywer van drie romans, waarvan die jongste Sluitstuk (Umuzi, 2023) is. In sy vrye tyd luister hy musiek, kyk hy na wedstryde van die Hane en die Springbokke, asook na films en reekse. Hy sit ook graag op die stoep en kyk na sy vrou, Rika, se vetplanttuin.

 

Iedereen is welkom!

 

Donderdag: 12 Oktober 2023 vanaf 6nm- Die Boekklub, Pniel.

R250pp sluit aandete plus ‘n glasie wyn in.

Rsvp: Lamé by 27(0)828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portaal (verw S012/10 en jou naam)

http://pay.yoco.com/filosofiekafee


TEMA: Waar sal my identiteit vandaan kom?   

SPREKER: Christina Landman

Christina se onderwerp handel oor identiteit. Dit word gesien teen die agtergrond van persone wat grootgeword het in ‘n land waar daar min ontmoetings met mense van kleur was; waar ‘n minderheid later bande moes smee met medeburgers wat anders grootgeword het. Sommige van hulle het plek gemaak vir die minderheid; ander het hulle egter gehaat – in die werkplek, die kerk en ook binne die  sosiale omgangskonteks. Die vraag wat sy stel is: Waar moet my identiteit vandaan kom? Waar hoort ek?


Christina Landman het as ‘n jong meisie orrel gespeel, halfmarathonne gehardloop en later veel geskryf – akademies, populêr en onpopulêr.  Sy het sewe grade in die teologie verwerf, tien akademiese boeke  geskryf,  meer as ‘n honderd geakkrediteerde akademiese artikels gepubliseer, tien (on)populêre boeke die lig laat sien  en sowat 300 artikels  gepubliseer in koerante en tydskrifte –  meesal in Beeld se Godsdiens-Aktueel.  Sy het 42 jaar by Unisa gedoseer en is steeds as ‘n buitengewone professor daar werksaam.  Sy is predikant in die VGK se Rustenburg-Karlienpark gemeente. Die VGK het vroeër as die NG Sendingkerk bekend gestaan. Verder verwonder sy haar aan die lewe, mense, die kerk en stories.

 

Iedereen is welkom om aan hiérdie oop gesprek deel te neem!

 

Vrydagaand: 29 September 2023 vanaf 18:30

Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.

R250pp sluit aandete plus ‘n glasie wyn/biertjie/sap in.

Rsvp: Lamé by 27(0)828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie pertaal (verw W09/29 en jou naam)

http://pay.yoco.com/filosofiekafee


 












Al gewonder waarom kunstenaars soms soos gode paradeer? Niemand anders doen dit in ewe maat nie. Die rede is dat die kuns in noue verbintenis met die gode staan. Laasgenoemde was die vroegste vergestaltings van die natuur, wat die mens se lot bepaal het. Ook was hulle die beskermhere van vuur en 'die idees' –wat die mens kon help om sy eie dood te oorleef. Wie anders as die gode was dan die onsterflikes? Hierdie templaat leef vandag nog voort. Waarom bied kunstenaars én skrywers hulself soms aan as 'gode op aarde'?


Charl-Pierre Naude is benewens filosoof ook digter en romanskrywer, resensent en kritikus. 
Van sy gedigte is onder meer in Duits, Nederlands, Frans en Noorweegs vertaal
In die rede geval: Waarom die mens mites maak is Naudé se eerste besinnende werk en het uit sy doktorsgraad in die filosofie (2022), gegroei. Hy gee tans 
aandag aan die skryf van ’n roman.
 


                                          IEDEREEN WELKOM!  


Kom klink 'n glasie saam op 25 jaar se bestaan!



Bespreek asb vroegtydig by oopgesprek@filosofiekafee.co.za /0828951139
R190 pp sluit aandete, sjerrie/sap in.
Betaal asb met die datum W01/09 en jou naam by hierdie portaal:
 
http://pay.yoco.com/filosofiekafee

 


In sy verontrustende essay Die gesagskrisis postuleer die filosoof Ad Verbrugge dat die postmoderne mens en die markgerigte owerheid albei poreus geword het en dreig om te verbrokkel.
Ons leef in woelige tye. Krisisse tuimel oor mekaar, die vervreemding tussen burgers en owerheid neem toe, die politieke landskap raak al hoe meer versnipperd en die funksionering van die demokratiese regstaat word bevraagteken.  Kritiek op die “elite” groei sterk, die
tradisionele media word toenemend gewantrou en institusies wat voorheen gesaghebbend was, is onder beleg.  Terselfdertyd ontwikkel die besef dat daar geen eenvoudige oplossing is nie, die probleem lê dieper.
Op grond van, onder meer, ‘n grondige besinning oor Aristoteles se etiek van deugde betoog Ad Verbrugge in Die gesagskrisis dat daar ‘n leemte skuil  in die netwerk-maatskappy met sy klem op verbruik. As gevolg van die  gebrek aan ‘n gedeelde besieling  en ‘n lewende opvatting van maatskaplike deug word burgers en owerheid albei poreus  en vatbaar vir grillige kragte wat die bestaande orde uithol.  Die gesagskrisis wat met hierdie uitholling gepaard gaan, vra om ‘n fundamentele besinning oor ons postmoderne kultuur wat begin met die herwaardering van die mens as ‘n sinsoekende gemeenskapswese.

Ad Verbrugge het ’n doktorsgraad oor die denke van Aristoteles en Heidegger geskryf  en is as filosoof verbonde aan die Vrije Universiteit Amsterdam. Hy was besoekende professor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Ad is die outeur van verskeie boeke waaronder die nuutste oor die tema van die gesagskrisis in die Weste. 

IEDEREEN IS WELKOM OM SAAM TE DINK !

KOM KLINK 'N GLASIE SAAM OP 25 JAAR SE STANDHOUDENDE OOP GESPREK! 

R190 pp sluit ontbyt en ‘n koppie koffie/tee/sap in.

Betaal asb met die datum W05/08 en jou naam by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee